South Africa
‘Misdaad kraai koning in “Gangsta’s Paradise” solank ANC septer swaai’─── 10:04 Fri, 16 Jun 2023
“Dis duidelik dat misdaad in Gauteng onder die ANC-regering steeds styg en aanhou seëvier,” sê Kobus Hoffman, VF Plus-wetgewerlid in dié provinsie, waarna ook soms as ’n paradys vir bendebedrywighede verwys word.
Die provinsie se misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van die 2022/2023-boekjaar (Januarie tot Maart 2023) skets weer ’n donker prentjie. “Dis veral misdaad waar gewone mense in lewensgevaar verkeer, wat hardnekkig groei,” sê Hoffman.
Die verslag dui aan dat moord met 10% toegeneem het vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar en poging tot moord met 6,9%. Aanranding is op met 9,7%. Transitorooftogte het ’n “ongelooflike” 22,7% gestyg, inbrake by nieresidensiële geboue met 20,2%, veediefstal met 14% en winkeldiefstal met 22,3%.

Kobus Hoffman, Gautengse VF Plus-LPW. Foto: Facebook
“Die moord- en aanrandingstatistiek is ’n aanduiding van die uiters swak ekonomiese beleid van die ANC in Gauteng, wat eerder werkgeleenthede vernietig as skep en tallose mense in misdaad laat verval,” meen Hoffman.
“Die invloei van onwettige immigrante na Gauteng vir beter ekonomiese vooruitsigte, skep ook druk op die inwoners en lei tot groot konflik, kompetisie vir oorlewing en gevolglike misdaad.”
‘Dis ’n onrusbarende aanduiding dat vroue nie veilig in Gauteng is nie’
Hy sê al is daar blykbaar goeie nuus deurdat seksuele misdrywe soos verkragting met 4,4% en seksuele aanranding met 15,9% afgeneem het, toon die statistiek dat pogings tot die pleeg van seksuele misdrywe met nie minder nie as 28,1% gestyg het.
“Dis ’n onrusbarende aanduiding dat vroue nie veilig in Gauteng is nie,” sê Hoffman. “Daarby is die VF Plus oortuig dat die statistiek nie korrek is nie weens ’n onderrapportering van misdaad deur gemeenskappe wat nie meer vertroue in die ANC-beheerde Gautengse regering en die polisie het nie.
“Talle mense sien eenvoudig geen nut daarin om misdaad deur die polisie aan te meld nie, want dit is bekend dat min sake opgelos word en weinig suksesvolle vervolgings plaasvind.”
Hoffman meen die toename in gemeenskappe se optrede om vermeende misdadigers self te vang en te straf, “is ’n sterk aanduiding van hierdie kommerwekkende neiging”.
‘Die koue statistieke kan nooit die pyn van misdaad weergee nie’
Die toestroming van sake, ten spyte van onderrapportering, oorweldig die onderbemande speurdienste en forensiese afdelings van die polisie weens ’n steeds te hoë werklading in verhouding tot die getal speurders en forensies kundiges. “Dié wanbalans lei dan weer tot swak voorbereide sake wat tot by die howe vorder waar dit op tegniese punte verwerp word,” waarsku Hoffman.
“Die VF Plus is baie dankbaar vir elke inhegtenisneming wat wel gemaak word … Dit is egter nie goed genoeg nie. Die koue statistieke op papier kan nooit werklik die pyn van misdaad en die impak daarvan op gemeenskappe weergee nie.
“Dit is duidelik dat die ANC die stryd teen misdaad in Gauteng verloor,” sê Hoffman; “daarom moet die ANC in die 2024-verkiesing uit die kussings gelig word.”
