On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

South Africa

Derick Hougaard: ‘Eindfluitjie het nog nie geblaas nie’

───   09:29 Tue, 20 Jun 2023

Derick Hougaard: ‘Eindfluitjie het nog nie geblaas nie’ | News Article

“Boeta, hierdie eindfluitjie het nog nie geblaas nie. Baklei my kind, soos net jy kan baklei.” Derick Hougaard se ma, Riana, sê dit in 'n hartroerende boodskap op Facebook.

Die voormalige Springbok-losskakel is in ’n medies geïnduseerde koma in die waakeenheid in ’n hospitaal in Pretoria nadat sy sangeres-vriendin Nádine hom op 10 Junie bewusteloos gevind het.

Hougaard (40), die "Liefling van Loftus", het ernstige longprobleme en is aan ’n ventilator gekoppel.

“Jy het rugby gespeel met af vingers, gekraakte ribbes, geskeurde ligamente. Boeta, hierdie eindfluitjie het nog nie geblaas nie. Jy moet nog daardie wenskop van die lewe oorskop,” sê sy ma in haar Facebook-boodskap. “Ek en jou pa hou vas aan ons geloof. Ons hou ook mekaar vas en die trane ruk ons lywe.”

News24 berig dat 'n verteenwoordiger van Nádine bevestig het dat daar geen verandering in sy toestand is nie. “Op hierdie oomblik is hy nog dieselfde as gister en eergister.”

‘Dokters gee hom 'n 50%-kans op oorlewing’

Nádine sê op Facebook dat slegs nabye familie toegelaat word om Hougaard te besoek en dat dokters hom 'n 50%-kans op oorlewing gee.

Daar word nog gewag vir die toksikologieverslag om uit te vind wat moontlik met hom gebeur het, berig The South African.

Baie van sy aanhangers het wense van beterskap vir hom op sosiale media geplaas. 

“Sedert ons die ontstellende nuus oor Derick gehoor het, is die Blou Bulle-familie op hul knieë om te bid vir ’n spoedige herstel vir ons Liefling van Loftus,” het Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, aan Maroela Media gesê.

Sy suster, Anneri Laing, het op Facebook geplaas: “Die lewe voel op die oomblik leeg. Jy moet aanhou baklei, jy is een van die sterkste mense wat ek ken. Ek het nog baie om met jou te deel, ek weet die Here het 'n baie groter plan met jou lewe, rugby was maar 'n klein deel van alles ... Jy is soveel meer en het soveel om te bied. Ek wag geduldig totdat jy weer jou oë oopmaak. Baie lief vir jou."

Hougaard by sy ouers, sy swaer, suster en hul kinders. FOTO: Facebook

Nádine het ook op Facebook gepleit vir begrip dat besoekers streng beperk is tot nabye familie en haarself. Dit volg nadat sy die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg daarvan beskuldig het dat hy foto's van Hougaard, gekoppel aan 'n ventilator, geneem en glo op sy profiel geplaas het.

Die sangeres sê dit is nie net oneerbiedig teenoor Hougaard nie, maar ook teenoor die personeel wat hom en ander pasiënte in die saal versorg.

‘Derick is nie meer op aarde’

Liebenberg het ná sy hospitaalbesoek te kenne gegee dat Hougaard “nie meer op aarde is nie” en beweer dat 'n ventilator hom aan die lewe hou.

Nádine het hierop terugbaklei met: “Vir Louis om te sê dat die lewe in Derick se liggaam hierdie aarde lank gelede verlaat het, is om dood te praat oor iemand wat LEEF! Net een Vader gee of neem lewe en dood, en dit is my Hemelse Here in wie ek glo!”

Hougaard het tweelingseuns, Eliah en Daniel, uit sy huwelik met die Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Karlien van Jaarsveld.

Hy is die Liefling van Loftus gedoop toe hy in 2002 as 19-jarige speler die legendariese Naas Botha se rekord van 15 jaar vir die meeste punte deur een speler in ’n Curriebeker-eindstryd verbeter het. Hougaard het 26 punte (’n drie, twee skepskoppe en vyf strafskoppe) aangeteken en Botha se rekord met twee punte verbeter.

Hy het in 2015 sy rugbystewels weggepak en onder meer as ’n skopkonsultant vir die Bulle opgetree.

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.