South Africa
Malema se uitlatings ís haatspraak, beslis hof─── 06:59 Sun, 16 Jul 2023
Die burgerregteorganisasie AfriForum was suksesvol met sy hofaansoek in die Johannesburgse Hooggeregshof teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) om ’n besluit oor haatspraak op hersiening te neem.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se besluit dat Julius Malema, leier van die EFF, se uitlatings tydens ’n 2016 byeenkoms nié neerkom op haatspraak nie, moet tersyde gestel word. Regter Roland Sutherland het Vrydag só beslis oor die SAMRK se bevinding in 2019.
Die hof het verder bevind dat die SAMRK nie bindende magte het om bevele of bevindings te maak nie. AfriForum het hierdie saak nadruklik met kostes gewen.
Die uitsprake deur Malema, wat hier ter sprake is, is in 2016 gemaak tydens ’n byeenkoms in Newcastle toe hy onder meer gesê het: “We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.”
AfriForum het in 2019 hofstukke ingedien om die SAMRK se besluit, dat hierdie uitsprake nie haatspraak is nie, op hersiening te neem.
“Hierdie is ’n dubbele oorwinning vir AfriForum oor die SAMRK, aangesien ons standpunt is dat Julius Malema duidelike haatspraak gepleeg het in 2016, én dat die SAMRK nie bindende magte het nie. Beide is nou deur die hof bevestig,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
“Daar is ’n verdere sukses ter sprake in hierdie groot oorwinning, en dit is dat dit ook die presedent skep dat bevindings deur die SAMRK in die hof aangevat mag word,” sluit Van Zyl af.
Mediaverklaring
