On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Saak teen gevonniste vroueslaner Jaco Swart uitgestel

───   DANE BEISHEIM 10:25 Tue, 15 Aug 2023

Saak teen gevonniste vroueslaner Jaco Swart uitgestel | News Article
Foto: SAPS/Twitter

Die saak teen die gevonniste vroueslaner Jaco Swart is gister in die Kuilsrivier-landdroshof uitgestel.

AfriForum se private vervolgingseenheid verteenwoordig die klaer in die saak, ’n vrouepolisiebeampte, wat na bewering deur Swart aangerand is.

In Januarie 2021 het die polisiebeampte se buurvrou haar om hulp gevra omdat haar vriend, Swart, na bewering dronk was en geweier het om haar woonstel te verlaat.


Ao. Riaan Booysen het aan die hof verduidelik waarom ’n dagvaarding nie aan Swart beteken kon word nie. Booysen is die ondersoekbeampte in ’n onverwante bedrogsaak teen Swart. Hy het vasgestel dat Swart ’n vriend se paspoort gebruik het om Suid-Afrika deur die Lebombo-grenspos te verlaat op pad na die Verenigde Koninkryk. 

Booysen het met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gekonsulteer oor die moontlikheid om Swart uit te lewer, maar hy moes hoor dit sou te moeilik wees weens “te veel papierwerk”.


Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se private vervolgingseenheid, meen dit is ’n duidelike voorbeeld van pligsversuim deur die NVG. Dit “belas nou die burgerlike samelewing en private aanklaers met die plig om te verseker dat geregtigheid geskied”.

Hy sê politici en hooggeplaaste amptenare het moeite gedoen om toe te sien dat Thabo Bester na Suid-Afrika uitgelewer word. “Dit was ’n hoëprofielsaak wat nasionale media-aandag geniet het, en dus wou die amptenary wys hulle tree op. 

“Net omdat sake nie hoëprofiel is nie, beteken nie die staat kan agteroorsit en toelaat dat skuldige mense vervolging vryspring aangesien dit te omslagtig is om hul bywoning in die hof te verseker nie.”

Die saak is uitgestel tot 21 Augustus vir uitspraak.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.