South Africa
Talle kwessies by BRICS-beraad onder bespreking – kenner─── DANE BEISHEIM 11:04 Mon, 21 Aug 2023
Daar sal waarskynlik drie hoogpunte van bespreking tussen lidlande wees tydens vandeesweek se 15de BRICS-beraad.
Politieke ontleder André Duvenhage sê ekonomiese handelsooreenkomste en samewerking sal beslis bespreek word.
Tweedens sal uitgebreide lidmaatskap aan die groepering onder bespreking kom. Daar is 'n verskeidenheid ander lande wat ook die BRICS-beraad op uitnodiging gaan bywoon, wat ten doel het om eindelik aan te sluit by die groepering.
Derdens kan aanvaar word dat die beraad ‘n politieke teenvoeter sal wees teen die Weste.
“Ek dink dit is simptomaties van ‘n herposisionering van die wêreldpolitiek, en daar is vir Suid-Afrika baie geleenthede maar ook ongetwyfeld risiko’s,” sê Duvenhage.
“Daar bestaan ’n risiko om ons te belyn met lande soos Rusland, in terme van die eskalerende oorlog in die Oekraïne."
Duvenhage sê beide die Chinese en Russiese ekonomieë is tans in ’n krisis weens bevolkingsafname.
Beide lande het ’n skerp afname in die aantal landsburgers tussen die ouderdomme van 18 en 35 gesien.
“Hierdie demografiese kwessies kan ’n ernstige en langdurige impak op ekonomieë van Rusland en China hê, wat 'n negatiewe impak op Suid-Afrika kan hê. Daar kan ook ekonomiese, politieke en militêre risiko's op die spel wees.”

