On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight OFM
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Mej. Heelal Suid-Afrika wil ‘Sister Bethina’ op die verhoog hoor

───   TSHEHLA KOTELI 13:42 Thu, 16 Nov 2023

Mej. Heelal Suid-Afrika wil ‘Sister Bethina’ op die verhoog hoor | News Article
Bryoni Govender het die skepping van Casey Jeanne vir die nasionale kostuum aangehad. Foto: Instagram

“Ek het na die Wêreldbeker-rugbytoernooi gekyk en gesê wanneer ek wen, wil ek dit op die verhoog hoor.”

Voor die 72ste Mej. Heelal-kompetisie het Bryoni Govender, wat Suid-Afrika verteenwoordig, gesê sy wil hê die liedjie Sister Bethina van Mgarimbe moet speel wanneer sy die kompetisie wen.

Die kroning vind Saterdag (18/11) plaas. Govender is in Augustus 2023 as Mej. Heelal Suid-Afrika gekroon. Sy was die naaswenner nadat Natasha Joubert as Mej Suid-Afrika 2023 aangewys is. In 'n onderhoud met SNL24 SA het sy gesê Sister Bethina moet die klankbaan wees.



“Ek het na die Wêreldbeker-rugbytoernooi gekyk en gesê wanneer ek wen, wil ek dit op die verhoog hoor.” Vir die Suid-Afrika nasionale kostuum in El Salvador het sy die skepping van die ontwerper Casey Jeanne van KwaZulu-Natal aangehad. Hiermee vier sy haar Indies-Suid-Afrikaanse erfenis. Dit is ’n Afrika-Indiese ensemble, geïnspireer deur ’n sari en versier met Zoeloe-krale in ’n Ndebele-drukpatroon.



As sy wen, sal sy die vierde Suid-Afrikaner word om die gesogte titel te wen. Zozibini Tunzi is in 2019 as Mej, Heelal gekroon, Demi-Leigh Nel-Peters in 2017 en Margaret Gardiner in 1978. In 2021 is Lalela Mswane as tweede naaswenner aangewys en Tamaryn Green in 2018 as die eerste naaswenner. Govender is die eerste vrou van Indiese herkoms wat Suid-Afrika in die kompetisie verteenwoordig sedert Kerishnie Naiker in 1997.

Vanjaar mag getroude vroue en vroue met kinders ook aan die kompetisie deelneem. Rikkie Kollé van Nederland en Marina Machete van Portugal is die tweede en derde transgender-deelnemers nadat Ángela Ponce van Spanje in 2018 deelgeneem het. Camila Avella van Colombia en Michelle Cohn van Guatemala is die eerste getroude vroue en ma’s wat meeding.

Die kroning sal by die José Adolfo Pineda Arena in San Salvador gehou word. R'Bonney Gabriel van Amerika sal haar opvolger kroon. Dit sal om 03:00 op S3 (voorheen SABC 3), gewys word.



“Ons is verheug oor Suid-Afrikaners se ondersteuning vir Bryoni. Ons wens haar alles van die beste toe op die internasionale verhoog en weet sy beskik oor leierskap, fokus en passie om te kan wen,” sê Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika Organisasie, in ’n mediaverklaring.

“Ons is werklik verheug om die regte te hê om Mej. Heelal vir die kykers te kan wys. S3 gaan voort om relevante gebeure toeganklik vir Suid-Afrikaners te maak,” sê David Makubyane, hoof van SAUK-platforms.

OFM Nuus/Tshehla Koteli  Daphné/Corné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.