On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Klein Kwagga steel kollig voor sussie se danskonsert – VIDEO

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 12:21 Sun, 19 Nov 2023

Klein Kwagga steel kollig voor sussie se danskonsert – VIDEO | News Article
Klein Kwagga steel die kollig voor sussie se danskonsert. Foto: Skermgreep

“Vellies is nié net vir lekker boer nie!”

(English article.)

Die sewejarige Klein Kwagga se danspassies voor sy sussie se konsert het Saterdagaand onverwags die kollig gesteel. Vellies is nié net vir lekker boer nie!

Die dansskool René's Art of Dance het hul jaareindkonsert in die EnDeo Familiekerk in Benoni gehou en vooraf die dansers se boeties en sussies toegelaat om op die maat van Bernice West se 'Lyfie' op die verhoog te gaan dans.


Dirkco Jansen van Nieuwenhuizen het net daar besluit om een van sy helde – Robbie Wessels – se dansskoene vol te staan en te doen wat vir hom lekker is, om mense te laat lag, want hy weet wat die Leeuloop is. En die ouens het mooi gevra...

Mercia en Jaco Jansen van Nieuwenhuizen, sy ouers, vertel iemand het ’n video begin versprei en nou deel die wêreld in dié lekkerte. ’n Familielid het hulle gou gehelp om ’n TikTok-profiel te skep vir Klein Kwagga, soos sy pa hom van kleins af noem.

Dirkco Jansen van Nieuwenhuizen.

“Dirkco se sussie Elizma (12) – die amptelike danser – gun haar boetie elke oomblik van roem, as sy net ook kan saamgaan wanneer hulle Bernice ontmoet," sê Mercia.

En hoe voel Klein Kwagga oor al die aandag? Hy wil graag net twee van sy helde ontmoet - Faf de Klerk en die leeuloper Robbie Wessels - en sê hy sal nou sy smile moet begin oefen.


Dirkco is in graad 1 en Elizma is in graad 6 in die Gekombineerde Skool Balfour. Die gesin boer in die omgewing  waar hulle onder meer mielies en soja verbou. Jaco se bynaam is Velle, wat dan ook Klein Kwagga se liefde vir sy vellies verduidelik.

En ja, Klein Kwagga se talente loop ook sterk in die familie. Mercia se oorlede pa het gesing, trekklavier en orrel gespeel. ’n Paar van sy ooms is ook baie musikaal.

Klein Kwagga is ook van Desember af in Kyk Wie Praat te siene. Foto: Facebook 

Roem was Klein Kwagga nou maar eenmaal beskore, want in Desember is hy ook een van nege wat sy televisiedebuut in die derde seisoen van kykNET se gewilde reeks, ‘Kyk wie praat’ maak.

Maar Desember is nog ver, en hy wil dans voor sy God, want hy kán!

OFM Nuus/Corné Greyvenstein





@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.