South Africa
SA gyselaar ná ses jaar op pad huis toe─── 07:04 Tue, 19 Dec 2023

“Ek kan nie vir jou sê hoe verlig ek is nie, vir sy familie en veral sy vrou en seun.”
Die militantegroep Al-Kaïda het die Suid-Afrikaner Gerco van Deventer (48) ná ses jaar as gyselaar onvoorwaardelik vrygelaat. Hy is nou in ’n hospitaal in Algerië vir mediese waarneming.
Die BBC berig Van Deventer is die Suid-Afrikaner wat nog die langste as gyselaar aangehou is. Hy is in 2017 in Libië gevang en ’n jaar later aan Al-Kaïda in Mali verkoop.
‘Dit was ses pynlike jare van gebed, geduld en hoop’
“Ons wag op die volgende stap, om bevestiging oor sy gesondheid te kry en reëlings te tref om hom huis toe te bring om met sy vrou, Shereen, en sy seun, Asher, herenig te word,” sê dr. Imtiaz Sooliman van die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers, wat die blye nuus bekend gemaak het. “Dit was ses pynlike jare van gebed, geduld en hoop.”
Van Deventer was ’n paramedikus wat vir ’n veiligheidsmaatskappy in Libië gewerk het toe hy op 3 November 2017 ontvoer is. Drie Turkse ingenieurs, wat saam met hom ontvoer is, is sowat sewe maande later vrygelaat, maar hy het in aanhouding gebly, berig TimesLive.
Gerco van Deventer voordat hy Suid-Afrika verlaat het om in Libië as paramedikus vir ’n veiligheidsmaatskappy te werk. Foto verskaf
In 2018 is ’n losprys van $3 miljoen geëis, waarna Gift of the Givers onderhandel het om die bedrag na $500 000 te verminder. “Sy familie of die maatskappy wat hom maar pas aangestel het, kon dit nie betaal nie. Sonder ’n losprys het onderhandelinge tot stilstand gekom. In Januarie het een van ons kontakte in Mali ons versoek om weereens met die proses te begin.”
Briewe van godsdiensleiers vra om ‘versagting van harte’
Die organisasie het briewe van godsdiensleiers aan die ontvoerders gestuur “om hul hart te versag”. In September wou die organisasie hulp verleen met die aardbewing in Marokko wat indirekte boodskappe van waardering ontlok het. “Ons het dit gebruik om weer onvoorwaardelike vrylating te versoek. Op 5 Desember het ’n onbekende persoon in Mauritanië ons gebel en gesê hulle werk aan sy vrylating.”
Shereen, wat op Swellendam in die Suid-Kaap woon, het in Junie aan Maroela Media gesê sy het nog nie hoop verloor dat haar man na haar en haar 12-jarige seun sal terugkeer nie. “Ek mis hom. Selfs die klein dingetjies wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar – soos om ’n WhatsApp-boodskap te stuur of te ontvang.
“Sy plek langs my is leeg. Daar is nie liefdevolle boodskappe op my foon nie, ek kan nie vir hom koffie maak of met hom oor my dag gesels nie,” het sy toe gesê. Hulle was maar twee jaar getroud toe hy ontvoer word.
OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg/mc