South Africa
Veiliger feestyd: So maak mens tydens kapings, grypaanvalle en tref-en-trap-ongelukke─── 17:00 Tue, 19 Dec 2023
“Moenie uit jou voertuig klim om die slagoffer te help nie.”
Ons word feitlik elke dag gebombardeer met alles van waarskuwings oor betoging tot eindelose berigte oor kapings en kontantrooftogte.
Die hartseer feit van die saak is dat die meeste Suid-Afrikaners reeds misdaadslagoffers was – of dit die gewapende roof van ’n voertuig is of ’n baksteen deur ’n motorvenster, gevolg deur ’n hand wat ’n handsak of selfoon gryp. Ons kan nie hierdie verliese voorkom nie, maar ons kan ’n verskil maak deur dié soort misdaad aan te meld.
Hier is ’n paar riglyne wat jou en enige slagoffers kan help op die pad na geregtigheid:
Kapings/grypaanvalle (‘smash & grab’):
- Wanneer jy ’n kaping of grypaanval sien, moet onder geen omstandighede uit jou voertuig klim om die slagoffer te help nie. Niemand is vinniger as ’n koeël nie; moenie jou lewe in gevaar stel nie.
- Probeer om soveel moontlik waar te neem, maar onthou jou topprioriteit is om veilig te bly.
- Maak jouself ’n kleiner teiken binne-in jou voertuig deur tot onder die paneelbord se hoogte af te sak en die polisie by 08600 10111 te bel.
Tref-en-trap:
- Moet nooit probeer om ’n tref-en-trap-voertuig te volg nie. As die ergste gebeur, kan die getuie die verdagte se volgende slagoffer word.
- Staan die slagoffer by sonder om jouself in gevaar te stel, en probeer om soveel moontlik van die omstandighede te onthou om aan wetstoepassers te rapporteer.
- Om onmiddellike mediese bystand te reël en die toneel te beveilig om ’n sekondêre botsing te vermy, kan baie meer vir die slagoffer beteken as om agter ’n oortreder aan te jaag.
- As ’n getuie behoort jy kennis te neem van die voorval self sodat jy die nodige besonderhede aan polisiebeamptes kan gee.
- Jy kan die nommerplaat probeer onthou, maar dit is ook belangrik om die handelsnaam en model van die voertuig te onthou, asook enige opvallende kenmerke, byvoorbeeld krappe, duike of ’n advertensie op die venster. As die identifikasie van voertuie nie jou sterk punt is nie, probeer om ’n beskrywing van die voertuig te onthou.
OFM Nuus dg
