South Africa
Nuwe jaar begin op hoë noot met laer petrolprys─── 10:44 Fri, 29 Dec 2023
Petrol sal na verwagting met tot 54c per liter daal en diesel met meer as R1 per liter.
Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê motoriste kan uitsien na laer brandstofpryse om 2024 mee te begin. Syfers dui op verlagings in brandstofpryse van Woensdag af.
Ondanks die wisselvallige rand en kommer oor aanvalle op skepe in die Rooisee sal brandstofpryse na verwagting daal wanneer dit Woensdag deur die Departement van Minerale Bronne en Energie aangepas word. Petrol sal na verwagting met tot 54c per liter daal en diesel met meer as R1 per liter.
In kommentaar op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF), sê die AA syfers dui op verlagings in brandstofpryse oor die algemeen.
Die SEF bereken 95-oktaan-petrol sal met sowat 54c per liter daal, terwyl 93-oktaan-petrol met sowat 39c per liter kan daal. Dieselpryse sal na verwagting aansienlik daal met tussen 94c per liter en R1,02c per liter, terwyl paraffien met sowat 95c per liter sal daal.
‘Laer olieprys is dryfkrag agter verwagte dalings’
Oliepryse het vandeesweek gestabiliseer met 'n paar olietenkskepe wat hul deurgang deur die Rooisee hervat het ná voortgesette aanvalle wat oliepryse laat styg het. Die daling in die olieprys bly egter die dryfkrag agter die verwagte dalings.
“Hoewel ons verwag dat brandstof in Januarie goedkoper sal wees, bly ons bekommerd oor algehele hoë pryse wat ’n invloed op alle verbruikers het,” sê die AA. “As die verwagte dalings in die brandstofpryse ’n werklikheid word, sal petrolpryse steeds hoër wees as in Januarie 2023. Dieselpryse sal effens goedkoper wees as ’n jaar gelede.”
Die AA sê hoewel 2024 op 'n positiewe noot vir verbruikers begin, is dit nog te vroeg om te bepaal of brandstofpryse sal voortgaan om te daal, gegewe huidige geopolitieke gebeure wat die internasionale oliepryse beïnvloed.
OFM Nuus dg
