South Africa
Geen spoor van Oscar Pistorius ná vrylating op parool nie─── 18:26 Fri, 05 Jan 2024

“Op Twitter is bespiegel hy is by die Baviaanspoort- korrektiewe sentrum vrygelaat waar hy sedert Dinsdag aangehou was.”
Terwyl ’n menigte joernaliste en fotograwe deurnag buite die Atteridgeville-gevangenis in Pretoria gewag het op Oscar Pistorius se vrylating, het die Departement van Korrektiewe Dienste kort voor 09:00 Vrydag (5/1) aangekondig dat hy reeds tuis is.
Daar was egter geen beweging by die Waterkloof-huis van sy oom Arnold Pistorius in wie se sorg hy vrygelaat is nie. Die polisie het ’n vinnige draai by die huis gemaak, maar wou nie aan die media bevestig of Pistorius wel tuis is nie.
Lede van die media het reeds Donderdag by die Atteridge-gevangenis opgedaag om die historiese oomblik vas te lê wanneer Pistorius by die tronkdeur uitstap, maar moes ongedaner sake omdraai. Op Twitter is bespiegel dat hy Vrydag om 01:00 uit die Baviaanspoort- korrektiewe sentrum vrygelaat is waar hy sedert Dinsdag aangehou was.
Pistorius is vrygelaat op streng voorwaardes. Foto: Facebook
June Steenkamp, die ma van Reeva vir wie se moord Pistorius agt jaar tronkstraf uitgedien het, sê in ’n verklaring hoewel Pistorius se vrylating op parool haar geloof in die regstelsel bevestig het, is diegene wat ná haar dogter se dood agtergebly het lewenslange gevangenes van die moord.
“Daar kan nooit geregtigheid wees as jou geliefde nie terugkom nie, en geen hoeveelheid tyd sal Reeva terugbring nie. Ons wat agterbly, is diegene wat lewenslange tronkstraf uitdien.”
Netwerk24 berig die voormalige Olimpiese atleet LJ van Zyl en Pistorius het planne om weer saam te oefen. Van Zyl het die lemnaler gereeld in die gevangenis besoek. “Hy het dit baie gemis om te oefen. Hy kon nooit sy lemme aantrek en oefen soos hy gewoond was nie.”
‘Oscar sal ’n baie goeie afrigter wees’
Van Zyl meen Pistorius kan ’n grootbydrae in die ontwikkeling van atletiek lewer. “Hy sal ’n baie goeie afrigter wees.”
Facebook-gebruikers het oorwegend hul ondersteuning vir Pistorius uitgespreek. “Hy kan waardevol wees vir ons atletiek en vir ons atlete. Hy het sy straf uitgedien; nou verdien hy weer sy plekkie in die son,” sê Anet Bester.
“Hy het talente ontvang, en as sy afrigter se hart op die regte plek is, kan dit weer ontwikkel. Gaan voluit, Oscar,” sê Rika Marais. “God se liefde en genade is groot; bewys jouself tot eer van sy Naam. Leef (van) dag tot dag; gister is verby. Oordeel kom niemand toe nie.”
Pistorius het agt jaar van sy tronkstraf vir die moord op Reeva Steenkamp uitgedien. Foto: Facebook
“Ek sal vir seker nie dat hy my kind of enigeen van my familielede afrig nie,” laat Liza-mari Esterhuyze von Schauroth hoor. “Daar is baie atlete wat ’n beter voorbeeld vir ons jeug en samelewing kan wees. Hoe moet ons opkyk na iemand wat moord pleeg? Hy kan niemand iets positiefs leer nie.”
Pistorius is op streng paroolvoorwaardes vrygelaat. Hy moet gemeenskapdiens verrig, mag nie drank gebruik of onderhoude aan die media toestaan nie. Hy mag ook nie die Pretoriase rykmansbuurt Waterkloof sonder toestemming verlaat nie. Sy parool geld tot 5 Desember 2029.