South Africa
Suid-Afrika kan onrus voor verkiesing sien, waarsku Duitse verslag─── 13:27 Wed, 14 Feb 2024
“Baie beleidsfoute van die regering in die aanloop tot die verkiesing kan selfs ’n groter effek hê as die beurtkrag.”
Suid-Afrika kan nog openbare onrus ervaar in die aanloop tot vanjaar se verkiesing, waarsku die Duitse finansiëlediensteverskaffer Allianz. Die waarskuwing word vervat in ’n risikoverslag – Country Risk Atlas 2024.
Daarvolgens sal die toename in gewelddadige betogings en die toenemende geskille tussen politici druk op staatslegitimiteit plaas, die ANC se vermoë om onenigheid te ontlont, sal kwyn en die voorspelbaarheid en doeltreffendheid van regeringsoptrede sal afneem.
Allianz is ’n Duitse multinasionale finansiëledienstemaatskappy met sy hoofkantoor in München. Sy kernbelange is versekering en batebestuur. Allianz is die wêreld se grootste versekeringsmaatskappy en die grootste finansiëledienstemaatskappy in Europa.

In November 2021 het vragmotorbestuurders op die N3 betoog. Foto: TrafficSA
“Die regerende party het duidelik steun verloor in die plaaslike verkiesing van November 2022, toe steun vir die ANC deurslaggewend tot onder die 50%-kerf gedaal het,” sê die groep.
“Vir nou is dit moeilik om ’n sterk aanspraakmaker te sien, en selfs al verloor die party die volstrekte meerderheid in die komende verkiesing, sal hy waarskynlik die grootste in die parlement bly – ver voor sy naaste mededinger en in staat om voort te gaan om te regeer met die ondersteuning van ’n junior koalisievennoot.”
In Julie 2021 het onluste uitgebreek n KwaZulu-Natal en Gauteng, toe eiendom verwoes en geplunder is.
Chris Harmse, hoofekonoom by Sequoia Capital, sê enige groot stakings, betogings of openbare onrus sal ’n nadelige uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê. “Die direkte effek op die verlies aan produksie en inkomste en die beleggingsentiment van die res van die wêreld [sal massief wees].
“So, al hierdie openbare onrus en onsekerheid kan beslis lei tot ’n swakker ekonomie en verhoogde werkloosheid. Baie beleidsfoute van die regering in die aanloop tot die verkiesing kan selfs ’n groter uitwerking hê as die beurtkrag.”

In Julie 2021 was daar grootskaalse vernietiging van eiendom en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng. Foto: UKZN College of Humanities
Harmse sê die gebrek aan betroubare elektrisiteitsverskaffing dra by tot mense se frustrasie. “Die direkte effek is jou maandelikse elektrisiteitsrekening, wat ons almal weet het die afgelope twee jaar met meer as 45% gestyg.
“Dit plaas druk op die besteebare inkomste en produktiwiteit van mense wat tuis werk as gevolg van beurtkrag.”
OFM Nuus cg/dg/mc


