South Africa
Werner de Jager bly eers agter tralies weens moord op domineevrou─── KAREN VAN DER BERG 16:43 Thu, 22 Feb 2024
“Heelparty mense het buite die hof byeengekom om te betoog en oproepe van ‘don’t get bail, rot in jail’ is deurgaans gehoor.”
“Nie toegestaan nie.”
Dit was Donderdag (22/2) die uitspraak in die borgaansoek van die moordverdagte Werner de Jager (45), wat beskuldig word van die moord op sy domineevrou.
Ds. Liezel de Jager was predikant van die NG Gemeente Suidkus in KwaZulu-Natal toe sy in Oktober 2021 in die pastorie se oprit vermoor is. Sy is verwurg en haar keel afgesny.
Werner, die enigste beskuldigde, staan tereg op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade. Hy word ook aangekla van twee sake van bedrog. Die borgtogaansoek het in die landdroshof op Amanzimtoti plaasgevind.

Werner de Jager kom aan vir die uitslag van sy borgtogaansoek. Foto: Ian Cameron/Action Society
Landdros Zama Nyuswa het die uitspraak 16:15 gelewer ná ’n lang dag in die hof. Luide uitroepe van goedkeuring en mense wat hande klap het daarna gevolg.
Heelparty mense het buite die hof byeengekom om te betoog en oproepe van “don’t get bail, rot in jail” is deurlopend gehoor.
Werner het met kort geskeerde hare en in ’n blokkieshemp verskyn. Hy het heeldag afgemat en hartseer voorgekom.
