On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Onderwyskenners bekommerd oor nuwe gr. 9-sertifikaat

───   09:01 Thu, 11 Apr 2024

 Onderwyskenners bekommerd oor nuwe gr.  9-sertifikaat | News Article

“Om verpligte onderwys van tien jaar in te voer strook met die wêreldnorm.”

’n Onderwysaktivis waarsku dat die Departement van Basiese Onderwys se bekendstelling van ’n nuwe algemene onderwyssertifikaat nie die land se werkloosheidskrisis sal oplos nie.

Die algemene onderwyssertifikaat (GEC) is ’n gestandaardiseerde kwalifikasie vir leerders wat gr. 9 voltooi, wat aan enige skoolverlaters ’n “kwalifikasie” sal gee om óf ’n werk te kry óf ’n ander stroom van skoolopleiding te volg.

Die departement glo die sertifikaat sal leerders beter voorberei op die werkwêreld. Terwyl die departement 2025 as sy nasionale implementeringsdatum gestel het, was dié sertifikaat aanvanklik bedoel om volledig in 2024 in werking gestel te word.

“Dit is nie die regte stap nie, want die hoë vlakke van werkloosheid sluit reeds selfs diegene met matrieksertifikate in, en ons dink nie ’n gr. 9-sertifikaat sal leerders help wat werkvooruitsigte betref nie," sê Hendrick Makaneta, onderwysaktivis.

“Ons wil ’n situasie hê waar alle leerders daarna sal streef om ’n matrieksertifikaat te voltooi omdat dit die potensiaal het om verskeie deure oop te maak, en ’n gr. 9-sertifikaat sal nie in daardie verband kan help nie.”

Intussen sê onderwyskenner Mary Metcalfe dié sertifikaat sal verseker dat leerlinge ten minste ’n tasbare bewys het dat hulle die verpligte vlak van onderwys voltooi het.

“Om verpligte onderwys van tien jaar in te voer strook met die wêreldnorm. Die bekendstelling van die algemene onderwyssertifikaat hou vele voordele in. Eerstens weet almal dat die senior sertifikaat aandag gee aan die onderwysstelsel en sy prestasie. 

“So, ek hoop dat die GEC aan die einde van gr. 9 dieselfde effek sal hê deurdat skole, die onderwysdepartement en die publiek bewus sal wees van prestasie en areas van verbetering in die eerste tien jaar.

“Ek dink dit is verkeerd om dit as ’n uittreekwalifikasie te sien, maar om dit eerder as die eerste stap in die nasionale kwalifikasieraamwerk te sien en dit is die vlak 1-kwalifikasie in die Nasionale Kwalifikasieraamwerk.

“Dit sal verseker dat leerders wat nie met onderwys en opleiding voortgaan nie, een of ander tyd in die toekoms ’n sertifikaat het vir voortbou op algemene onderwys. Soos ons weet, val soveel as 40% van leerders uit ná gr. 9.”

Volgens Statistieke Suid-Afrika staan die land se amptelike werkloosheidsyfer op 32,1%.

OFM Nuus cg/mc/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.