On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Hoes jou kind? Medisyne-waghond waarsku teen dié hoesstroop

───   08:58 Tue, 16 Apr 2024

Hoes jou kind? Medisyne-waghond waarsku teen dié hoesstroop | News Article

“Die publiek word versoek om nie paniekerig te raak nie, aangesien die herroeping bondelspesifiek is.”

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het twee groepe Benylin- pediatriese hoesstroop herroep. Die publiek word versoek om nie paniekerig te raak nie, aangesien die herroeping bondelspesifiek is.

Ouers en professionele gesondheidsorgwerkers word gevra om hul medisynevoorraad na te gaan en die gebruik te staak van dié twee groepe Benylin-hoesstroop – met die nommers 329304 en 329303 – dit te verwyder en summier na hul gewone verspreidingskanaal terug te stuur.

Volgens die medisyne-waghond is dit giftig vir mense wanneer dit verteer word en kan dit dodelik wees. Dit kan lei tot buikpyn, braking, diarree, onvermoë om te urineer, hoofpyn, veranderde geestestoestand en akute nierbeserings, wat tot ’n kind se dood kan lei.

Die Nigeriese Nasionale Agentskap vir Voedsel-en-medisyne-administrasie-en-beheer (Nafdac) het Woensdag (10/4) aan die betrokke party gerapporteer dat twee besendings Benylin- pediatriese hoesstroop hoë vlakke van diëtileenglikol bevat. Die besendings is in Suid-Afrika, eSwatini, Rwanda, Kenia, Tanzanië en Nigerië versprei.

“Sahpra het dadelik die Suid-Afrikaanse vervaardiger, Kenvue, voorheen Johnson en Johnson, gekontak vir ’n antwoord. Ná gesprekke met die vervaardiger en in die beste belang van die publiek is besluit dat die geaffekteerde besendings onmiddellik herroep sal word.”

Benylin Pediatric vertoon as ’n deurskynende helderrooi stroop met 'n framboossmaak, verpak in bruin glasbottels wat 100 ml bevat, met 'n plastiekmaatbeker. Dit word gebruik vir die verligting van hoes en die kongestiewe simptome daarvan, asook vir die behandeling van hooikoors en ander allergiese toestande wat die boonste lugweg affekteer.

Die herroeping word geklassifiseer as ’n Klas 1-, Tipe A-herroeping, wat geassosieer word met ’n ernstige produkkwaliteitsprobleem, wat ernstige gevolge kan inhou.

Volgens Sahpra is dit ’n landwye herroeping en dit raak hospitale, kleinhandelswinkels, gesondheidswerkers, gemagtigde voorskrywers en individuele klante of pasiënte. Lede van die publiek word versoek om enige simptome te monitor wanneer hulle Benylin gebruik.

Diegene wat hierdie twee groepe gebruik het en enige nadelige reaksie toon of dit by kinders sien, moet hul gesondheidsorgwerker raadpleeg en dit rapporteer met behulp van die Med Safety App of ’n e-pos aan adr@sahpra.org.za.

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.