On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride James
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Morné
Listen Live Streams

South Africa

Suid-Afrikaanse verkeersboetes: Groot veranderinge kruip nader

───   08:13 Sat, 22 Jun 2024

Suid-Afrikaanse verkeersboetes: Groot veranderinge kruip nader   | News Article
Foto: Unsplash/Lukas Bato

“Ons glo maatreëls om padveiligheid te verbeter en sterftes te verminder is dringend nodig, maar Aarto is nie die towerstaffie nie.”

’n Poging om padverkeerswette suksesvol in Suid-Afrika uit te rol, wat al langer as 25 jaar die wind van voor kry, gaan stadig maar seker voort. 

Die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) gaan voort met die uitrol van die Aarto-wysigingswet – Administrative Adjudication of Road Traffic Offences (Aarto) of die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings. Die gevolglike strafpuntestelsel, wat in September 2024 bekend gestel sou word, sal egter nou eers teen die middel van 2025 geïmplementeer word.

Dié stelsel is voorheen teruggetrek omdat die regering se uitrolproses nie op skedule was nie.

Volgens Stefanie Fick, uitvoerende direkteur van die aanspreeklikheidsafdeling by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), moet al 245 munisipaliteite en sewe metro’s aan boord wees voordat Aarto landwyd geïmplementeer kan word.

In Januarie 2022 het die hooggeregshof in Pretoria die Aarto-wysigingswet ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Outa het dié hof genader en onder meer daarop gewys dat die stelsel administratief ingewikkeld is en op chaotiese munisipale stelsels staatmaak.

Die organisasie het in Julie 2023 ’n knou gekry toe die destydse minister van vervoer, Fikile Mbalula, appèl aangeteken het by die Grondwethof, wat geweier het om die Aarto-wysigingswet ongrondwetlik te verklaar. Outa se aansoek is dus van die hand gewys.

Outa het getwiet dat hulle teleurgesteld is met die Grondwethof se besluit, maar daarby sal aanpas. “Ons glo maatreëls om padveiligheid te verbeter en sterftes te verminder is dringend nodig, maar Aarto is nie die towerstaffie nie.”

Outa hou vol dat Aaarto-wetgewing lastige en komplekse kwessies vir die meeste motoriste en motorvoertuigeienaars tot gevolg sal hê. “Ons is bekommerd dat hierdie wetgewing nie die hoofdoel van die verbetering van padveiligheid sal bereik nie.

“Aarto-wette, met sy hoër strawwe, uitgerekte en duur prosedures wat deur die publiek gevolg moet word en die totale gebrek aan voorskrifte op sigbare polisiëring, sal min of geen effek hê op die verbetering van padveiligheid in Suid-Afrika nie.”

Outa hou vol swak toepassing, ’n gebrek aan administratiewe dissipline wanneer dit by verkeersoortredingsbestuur kom en ’n verskeidenheid probleme in die bestuur van voertuig- en bestuurslisensies sal uitdagings bly.

‘Strafpuntestelsel kan moontlik lei tot opgeskorte lisensies’

Veranderinge aan verkeersboetes word gevolglik in Suid-Afrika verwag. Die stelsel sou na verwagting op 1 Julie 2024 regoor Suid-Afrika in werking gestel word, maar dit sal nou middel 2025 gebeur. Die wet bepaal dat bestuurders gepenaliseer kan word vir spoed, ignorering van padtekens en rooi verkeersligte.

Die plan is nie dat hierdie stelsel slegs verkeersoortredings sal bestuur nie, maar ook ’n strafpuntestelsel daar sal stel wat moontlik kan lei tot opgeskorte of gekanselleerde lisensies – ’n ernstige implikasie waarvan bestuurders bewus moet wees.

Die Aarto-tydlyn wat gekommunikeer word, is soos volg:

- Metro-uitreikingsowerhede moet teen September 2024 aan boord wees;
- 167 verafgeleë munisipaliteite moet teen Desember 2024 aan boord wees; en
- daar sal tussen April en middel 2025 begin word met die implementering van strafpunte.

Moneyweb het Woensdag die departement van Vervoer versoek om te bevestig of dit die jongste rooster vir die ontplooiing van Aarto is, maar het nie ’n antwoord ontvang nie.

Die Automobielvereniging (AA), wat Aarto se stelsel voorheen beskryf het as onwerkbaar en gerig op inkomste-invordering in plaas van om padveiligheid te bevorder, sê dit is ’n groot vermorsing van belastingbetalers se geld wat niks verander het aan Suid-Afrika se skokkende padsterftesyfer nie. “Daar is geen bewyse dat die Aarto se proefneming in Gauteng ’n enkele lewe gered het nie,” het die AA vroeër gesê.

“Aarto is in 1998 goedgekeur, en die ontwerp daarvan het baie vroeër begin. Die hof self het bevind dat die tekortkominge nie oorkombaar is nie. Ná byna ’n kwarteeu van mislukking, sal die regering wys wees om dit te erken," het die AA gesê en bygevoeg dat dit geen doel sien om terug te gaan na die tekenbord nie.

Die werklike doel volgens Aarto is om die vervolging van padverkeersoortredings, waarvoor ’n skulderkenningsboete betaal kan word vanaf die Strafproseswet en die regterlike gesag van die howe te migreer na ’n administratiewe, prosesgedrewe skema, georkestreer deur 'n ver van onafhanklike staatsbeheerde onderneming, wat feitlik geheel en al gefinansier sal word deur verkeersboetes en die gelde wat daarop gehef word.

Hier is alles wat jy moet weet oor die groot veranderinge aan verkeersboetes in Suid-Afrika:

  • Strafpuntestelsel: Elke verkeersoortreding dra verskeie strafpunte. Indien te veel punte ophoop, kan dit lei tot boetes soos lisensie-opskorting (12 punte) of kansellasie (15).
  • Boetebetaling en appèlproses: Oortreders ontvang kennisgewings van verkeersoortredings en kan boetes betaal of die aanklagte betwis deur middel van ’n formele appèlproses (deur ’n tribunaal).
  • Oortredingskennisgewings en strawwe: Oortreders ontvang oortredingskennisgewings wat die beweerde oortreding en die gepaardgaande straf word uiteengesit. Dit kan boetes, strafpunte of albei insluit.
  • Bestuurder-rehabilitasie: Die Aarto-stelsel sluit voorsienings in vir bestuurder-rehabilitasieprogramme vir gewone verkeersoortreders.

Corné van Zyl van The South African verduidelik onder Aarto sal alle lisensies met 0 strafpunte begin. Gelisensieerde bestuurders benodig 15 punte vir ’n skorsing, terwyl leerlingbestuurders net 6 benodig.

Tydens ’n skorsing kan jy nie aansoek doen vir ’n rybewys, professionele bestuurspermit, motorvoertuiglisensieskyf, bestuurslisensie of enige ander lisensie of permitte nie.

As ’n oortreding as krimineel geklassifiseer word, kan ’n bestuurder tot 6 strafpunte deur ’n enkele oortreding opstapel. Sulke oortredings sluit in bestuur sonder die toepaslike lisensie vir die voertuigklas of bestuur onder die invloed van alkohol.

Vir elke drie maande wat verbygaan, sal een strafpunt outomaties verval. So jy sal vier punte van jou naam in ’n jaar kan skrap as jy nie bykomende oortredings het nie.

Skuldige bestuurders sal egter steeds aangekla word vir hul oortreding, aangesien hierdie nadele nie ’n boete vervang nie.

Byvoorbeeld, soos in die tabel (volg die skakel) getoon, sal iemand wat ’n voertuig op ’n openbare pad bestuur met ’n lisensie wat verval het, 3 strafpunte en ’n R2 000 boete ontvang. Moneyweb het tabelle geskep om sommige van die 2 000 moontlike Aarto-oortredings op te som.

Die verslag meld verder dat die Aarto-stelsel ook bestuurders sal aanspoor om boetes betyds te betaal deur ’n afslag van tot 50% aan te bied, afhangend van hoe vroeg hulle dit betaal.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.