South Africa
Gewese adjunkpresident David Mabuza sterf op 64─── 18:51 Thu, 03 Jul 2025

David Dabede Mabuza, voormalige adjunkpresident van Suid-Afrika, is Donderdag (3/7) in die ouderdom van 64 jaar oorlede ná ’n kort siekbed. Hy is glo in ’n hospitaal in Sandton oorlede, hoewel aanvanklike berigte aangedui het dat hy tuis gesterf het.
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het Mabuza se dood op sosiale media bevestig en hulde aan hom gebring as ’n toegewyde kader wat sy lewe gewy het aan die diens van die mense van Suid-Afrika. “Van sy dae in die stryd teen apartheid tot sy leierskap as premier van Mpumalanga en later as adjunkpresident, het hy die waardes van eenheid, dissipline en transformasie (uitgeleef),” het Mbalula gesê.
As voormalige adjunkpresident sal Mabuza met ’n staatsbegrafnis van Kategorie 2 vereer word, met militêre eerbewyse. Die ANC sê hy het met nederigheid en oortuiging gedien, en dat sy nalatenskap voortleef in die strewe na ’n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en voorspoedige Suid-Afrika.
Gewese adj.pres. David Mabuza. Foto: X
Die presiese besonderhede van die begrafnis en herdenkingsgeleenthede sal binnekort bekend gemaak word. Die ANC, Mabuza se familie en verskeie politieke figure het reeds hul meegevoel en hulde betuig.
Mabuza het ’n belangrike rol gespeel in die land se politieke geskiedenis. Hy is op 25 Augustus 1960 in Phola Trust, Mpumalanga, gebore en het sy loopbaan as wiskundeonderwyser en skoolhoof begin. Hy het later ’n B.A.-graad in sielkunde en onderwys aan Unisa verwerf. Sy politieke betrokkenheid het in die 1980’s begin met aktivisme in onderwyskringe en studentebewegings.
Premier van tuisprovinsie
In die 1990’s het Mabuza by die Mpumalanga-regering aangesluit en het daarna verskeie LUR-posisies in onderwys, behuising, vervoer en landbou beklee. In 2009 is hy as die vierde premier van Mpumalanga aangestel, ’n pos wat hy tot 2018 beklee het. Hy het ook van 2008 tot 2017 as provinsiale voorsitter van die ANC in Mpumalanga gedien en was sedert 2007 ’n lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee.
Mabuza het landwye bekendheid verwerf toe hy in 2017 op die ANC se 54ste nasionale konferensie as adjunkpresident van die party verkies is. Sy strategiese steun aan Cyril Ramaphosa is wyd beskou as deurslaggewend in Ramaphosa se verkiesing as ANC-president.
In 2018 is Mabuza as adjunkpresident van Suid-Afrika aangewys en het tot 2023 in dié amp gedien. Gedurende sy termyn is hy aangewys as leier van regeringsake in die parlement, en hy het verskeie interministeriële komitees gelei, onder meer oor grondhervorming, armoedeverligting, MIV/vigs-bestryding en later die regering se entstofprogram tydens die Covid-19-pandemie.
In 2014 het hy die DD Mabuza-stigting tot stand gebring om opvoeding en kwesbare gemeenskappe te ondersteun, maar sy politieke loopbaan was nie sonder omstredenheid nie. Hy is dikwels daarvan beskuldig dat hy politieke korrupsie, tenderbedrog en selfs politieke geweld in Mpumalanga bevorder het.
In 2015 het hy ernstig siek geword en het hy ineengestort. Hoewel dit aanvanklik aan uitputting of ’n beroerte toegeskryf is, het Mabuza later aan die media gesê dit was ’n poging om hom te vergiftig. Hy is na bewering vir behandeling na ’n staatshospitaal in Moskou geneem. Ná sy herstel het hy homself “The Cat” begin noem, ’n bynaam wat na sy politieke oorlewingsvermoë verwys omdat ’n kat kwansuis nege lewens het.
In 2023 het Mabuza uit sy amp as adjunkpresident en ook uit die parlement getree om, volgens hom, plek te maak vir nuwe leierskap. Paul Mashatile het hom as adjunkpresident opgevolg. Mabuza het hom daarna aan die openbare oog onttrek en hom blykbaar op sy privaat lewe en boerdery in Mpumalanga toegespits.
OFM Nuus mc