South Africa
Flottielje: Israel deporteer glo 171, maar geen Suid-Afrikaners─── 10:47 Mon, 06 Oct 2025

Israel sê hy het die Sweed Greta Thunberg en nog 170 aktiviste gedeporteer wat aangehou is nadat ’n flottielje wat hulp aan Gasa probeer aflewer het, onderskep is. Dit is nog nie seker of enige Suid-Afrikaners onder die vrygelatenes is nie.
Israel se ministerie van buitelandse sake sê op X die 171 mense is gedeporteer na Griekeland en Slowakye. Hulle is burgers van Griekeland, Italië, Frankryk, Ierland, Swede, Pole, Duitsland, Bulgarye, Litaue, Oostenryk, Luxemburg, Finland, Denemarke, Slowakye, Switserland, Noorweë, Brittanje, Serwië en die VSA.
Ongeveer 470 mense was aan boord van die 45 burgerlike bote toe die Global Sumud Flotilla verlede week deur Israel onderskep is.
Sommige lede van die flottielje wat reeds gedeporteer is, beweer hulle is tydens aanhouding in Israel mishandel. Van die mense aan boord word in die berugte Negef-gevangenis aangehou.
Die ministerie sê die mense in die flottielje gebruik dit om hul eie beeld te poets en al die aangehoudenes se regte is gerespekteer. Hulle word ook daarvan beskuldig dat hulle “leuens” versprei.
Die flottielje toe alles nog vlot verloop het. Foto: X
Te midde van die kommerwekkende bewerings van mishandeling en onmenslike toestande het die Suid-Afrikaanse regering vroeër bevestig hulle verkeer in goeie gesondheid en hul gemoedstoestand is goed.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het die naweek gesê die prosesse vorder goed vir hul terugkeer na Suid-Afrika.
Onder die aangehoudenes is die Suid-Afrikaners Mandla Mandela, kleinseun van wyle oudpres. Nelson Mandela, die skrywer Zukiswa Wanner, dr. Fatima Hendricks, Zaheera Soomar, Carrie Shelver en Reaz Moola.
Die Negef-gevangenis is een van Israel se grootste tronke en berug daarvoor dat Palestynse politieke gevangenes onder haglike omstandighede aangehou word.
Geweld en marteling
Menseregteorganisasies kritiseer gereeld die gevangenis vir sistematiese mishandeling, oorbevolking en gebrekkige sanitasie, berig IOL. Sommige gevangenes word glo in tente gehou en blootgestel aan ekstreme woestyntemperature.
Aangehoudenes ontvang glo minimale beddegoed en beperkte toegang tot kos, water en mediese sorg. Fisieke geweld, marteling en sterftes weens die weerhouding van mediese behandeling word ook aangemeld.
Die Turkse joernalis Ersin Celik, wat onlangs vrygelaat is, sê dit is soos om in “dierehokke” aangehou te word. “Die mure was vol skrif in Arabies, in bloed geskryf.
“Drink uit die toilet,” het hulle gesê. Hy beweer die Sweedse aktivis Greta Thunberg is verneder deurdat ’n Israeliese vlag aan haar rug vasgebind is. “Ons is 40 uur lank uitgehonger en verbied om toilette te gebruik.”
‘Dieselfde behandeling as saboteurs’
Itamar Ben-Gvir, Israel se minister van nasionale veiligheid, het die behandeling verdedig wat die flottieljelede ontvang. “Soos beloof, ontvang dié wat die flottielje ondersteun het dieselfde behandeling as saboteurs in die Negef-kamp.”
Pres. Cyril Ramaphosa het die “onmiddellike en onvoorwaardelike” vrylating van die Suid-Afrikaners geëis en dit as ’n skending van internasionale reg beskryf dat die flottieljelede in internasionale waters aangekeer is.
Die Royal House of Mandela en die One in Nine-veldtog het dringende oproepe gerig vir die vrylating van die Suid-Afrikaners en die ander aktiviste. Die organisasie spreek ernstige kommer uit oor berigte van marteling en mishandeling.
Sama verbreek bande
“Ons vryheid is onvolledig sonder die vryheid van die Palestynse volk,” sê Nosekeni Rabia Mandela namens die familie. “Ons het ’n morele verpligting om dieselfde te doen teenoor die volksmoordenaars en apartheidstaat Israel.”
Die organisasie verwelkom die vrylating van 137 van die aangehoudenes en spteek sy vertroue uit dat al die aangehoudenes spoedig vry sal wees.
Intussen verwelkom Healthcare Workers 4 Palestine South Africa die besluit van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) om alle bande met die Israeliese Mediese Vereniging (IMA) te verbreek. Sama vra ook die Wêreld- Mediese Vereniging moet die IMA skors.
Die Suid-Afrikaanse Sioniste-federasie sê die sending het nie oor medelye gegaan nie, maar was daarop gemik om die Israeliese staat uit te daag, berig eNCA. Israel beskuldig die organiseerders daarvan dat die flottielje deur Hamas gefinansier is – ’n bewering wat heftig ontken word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs dg