On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Die uitdagings en nood van ’n Bethlehemse gestremde

───   SUSAN MARÉ 11:45 Tue, 21 Oct 2025

Die uitdagings en nood van ’n Bethlehemse gestremde | News Article
Karin Jordaan, Ryno en Zack en Peter Muller wat as gesinsvriende baie vir hulle doen en beteken. Foto: Susan Maré

Die lewe van Ryno Strydom van Bethlehem het sedert 2004 ’n lang en tragiese verloop.

Die een dag nog ’n wakker, gewone skoolseun van 13 jaar aan die Primêre Skool Graanveld op Bethlehem, en toe, eensklaps, verander sy lewe. Ook dié van sy gesin: Hy kry wat ná epilepsie-aanvalle lyk en tog kan dokters nie ’n diagnose maak nie.

Sy ma, Karin Jordaan, wat voorheen by Hospice Bethlehem werksaam was, vertel sowat ses maande lank wou geen medikasie werk nie. Ryno het bly val, aanvalle gekry en sy liggaam op verskeie plekke beseer.

Eindelik word hy vir nege weke in Bloemfontein gehospitaliseer vir neurologiese ondersoeke en talle lumbale punksies.

Ryno Strydom word voltyds deur sy ma, Karin Jordaan, versorg. Foto: Susan Maré

Dr. Elmarie Janse van Rensburg van Bloemfontein was toe sy neuroloog en het opreg vir hom omgegee. Sy wou nie moed opgee nie en het deeglike navorsing oor die siekte gedoen.

Eindelik is vasgestel hy ly aan subakute skleroserende panencefalitis, ’n vinnig-progressiewe neurodegeneratiewe siekte, toe nog onbekend in Suid-Afrika. Die prognose was dat dit ’n neurologiese versteuring is wat met masels verband hou hoewel hy tog vir masels ingeënt is.

Die diagnose was donker. Ryno (nou 33) se sentrale senuweestelsel, waarvoor daar tot vandag geen behandeling voor is nie, was fataal. Dit is soos geleidelike breinverlamming.

‘Virussiekte is ongeneeslik’

Daar was nie hoop nie en hy kon volgens die neuroloog moontlik nog ses maande tot drie jaar leef. Dis ’n siekte wat by een uit 10 000 mense wêreldwyd voorkom. Dié virussiekte is ongeneeslik en nog geen behandeling bestaan daarvoor nie, sê Karin.

Sy aanvanklike proefbehandeling was vir hom erg: ’n breinoperasie, inspuitings, ses weke hospitalisasie, twee weke rus, dan weer ses weke in die hospitaal … ’n Jaar ná die staking van behandeling het hy effens verbeter.

Sewe jaar lank kon hy weer kruip, ’n bekertjie vashou, sy hande en arms gebruik en ’n paar woorde op ’n keer sê. Hy was in Pathways Bethlehem, ’n skool vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes tot sy 22ste jaar, toe hy begin verswak het.

“Dit was vir my as ma destyds soos ’n doodsvonnis – verskriklik om te hanteer. Om te dink ’n virus maak my kind se brein dood.

“In November 2025 word hy 34 jaar,” vertel sy ma. “Ryno is die afgelope tien jaar totaal hulpeloos en bedlêend. Toe ek vir hospice gewerk het, kon ek ’n versorger aanstel om na hom te kyk, maar is genoodsaak om dit nou self te doen.

“Hy is deur baie behandelings. Mense van reg oor die wêreld het vir hom gebid en ’n soort van wonderwerk het tog gebeur – hy het ses maande en toe ook drie jaar oorleef. Nie dat ’n mens dit verstaan nie.”

Ryno oorleef, al is die boodskappe van sy brein na sy liggaam skynbaar niebestaande. “Dit is onseker óf en watter van sy vyf sintuie en emosies nog goed werk. Hy is geheel en al afhanklik van versorging, dra doeke, kry buisvoeding deur sy maag en het ongelukkig druksere op sy heupe ontwikkel.”

Hy glimlag as ek vir hom sing

Haar seun kry nog ’n klein bietjie epilepsie en baie spasmas, vertel Karin. “Dit lyk soms of daar begip is. Hy glimlag as ek vir hom sing, of as Juanita du Plessis se musiek vir hom gespeel word.

“Dit lyk nie of hy enige pyn voel nie, maar hoe sal ’n mens regtig weet? Hy huil as hy in ’n motor gelaai word en assosieer dit waarskynlik met hospitale. En ja, hy glimlag dan en wan, maar selfs ek as ma weet nie op watter vlak sy brein werk nie.”

Sy getuig die Here gee haar bonatuurlike krag. “Ek kan sê ek is dankbaar vir elke dag en dis vir my kosbaar om Ryno te versorg. Ek het geleer om net van dag tot dag te leef.

“Daar is ook engele in ons lewe – mense wat oor ons pad kom, familie en vriende. Hoe sê ek vir hulle dankie? Die tyd saam met Ryno ag ek as spesiaal. Dit is wel ’n lewe met baie uitdagings maar ons is in die Here se hande.”

‘Jy is Ryno se engel’

Anita Classen-Smit, ’n onderwyser wat vir hom skoolgehou het, sê: “Ryno was altyd so ’n behulpsame seun in gr. 7. Hy het elke oggend die klaskamers se vensters oopgemaak, die kinders se boeke of aantekeninge uitgedeel, en skielik, een môre was hy afwesig. 

“Karin, jy is Ryno se engel – ek bewonder jou.”

Karin Jordaan het hul tuinwoonstel omskep in Karin’s Bookshop. Foto: Susan Maré

Tweedehandse boeke word teen bekostigbare pryse verkoop. Dit is ten bate van Ryno se uitgawes soos doeke, wondsorgmateriaal en spesiale kos vir sy voeding wat uit die Kaap bestel moet word.

Ryno kry ’n Sassa-ongeskiktheidstoelaag en het sy eie bankrekening. Hoeveel energie dit vir hom, sy ma en vriende was om hom te help om dáárby uit te kom, is ’n storie op sy eie. Uiteraard is dit nie naastenby genoeg vir Ryno se uitgawes nie.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.