South Africa
Hof beveel Zuma moet R28,9 miljoen terugbetaal vir sy hofsake─── 14:50 Wed, 22 Oct 2025

Oudpres. Jacob Zuma moet meer R28,9 miljoen terugbetaal wat oor jare heen aan sy privaat regsgedinge bestee is, het die hooggeregshof in Pretoria Woensdagmiddag (22/10) beslis.
In wat as ’n ernstige regsterugslag vir hom beskou word, het die hof beslis Zuma moet die geld terugbetaal wat deur die staat gefinansier is vir onder meer sy verdediging in die langdurige korrupsiesaak teen hom. Regter Anthony Millar het Zuma beveel om die volle R28,96 miljoen aan die staatsprokureur terug te betaal, asook die rente soos bereken teen die voorgeskrewe koers.
Rente word vanaf 25 Januarie 2024 tot op die datum wat hy die betaling doen, bereken op R18,9 miljoen, berig IOL.
Regstappe is sedert 2021 ingestel toe die appèlhof bevestig het Zuma is nie daarop geregtig is dat die staat sy regskoste verder finansier nie. Die hof het destyds ook gelas die staatsprokureur moet alle redelike stappe doen om die belastinggeld wat reeds bestee was, terug te vorder.
Regter Anthony Millar. Foto: SA Jewish Report
News24 berig Zuma en sy regspan het aangevoer die uitspraak van 2021 bepaal nie eksplisiet hy is persoonlik aanspreeklik vir die terugbetaling nie. Millar het egter hiermee verskil en verklaar dit “blyk duidelik” uit die uitspraak die bevel is op Zuma persoonlik van toepassing.
Indien Zuma versuim om die skuld binne 60 dae na die hofbevel te vereffen, mag die staatsprokureur ’n lasbrief van eksekusie verkry vir die beslaglegging en verkoop van sy roerende en onroerende bates.
Dit sluit sy presidensiële pensioenvoordeel in, of ’n gedeelte daarvan, mits ’n hof dit as regverdig en gepas beskou en ’n verdere bevel daartoe uitreik.
Moet ook aansoek betaal
Die hof het ook gelas dat die staatsprokureur binne drie maande ’n beëdigde verklaring aan die hof moet voorlê oor die stappe wat gedoen is om die geld te verhaal, en daarna elke drie maande totdat die skuld vereffen is. Zuma is verder aanspreeklik vir die regskoste van die aansoek.
Druk neem toe op Zuma, wat reeds deur verskeie regsgedinge en politieke uitdagings in die gesig gestaar word. Die beslissing kan beskou word as ’n versterking van die beginsel van aanspreeklikheid vir staatsgeld en kan ’n presedent skep vir toekomstige sake waar staatsgeld vir privaat regsverdediging gebruik word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh