South Africa
Milnerton-leerlinge kry borgtog ná aanrandingsvideo─── 15:38 Thu, 23 Oct 2025

Agt leerders van die Hoërskool Milnerton het Donderdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn op aanklagte van ernstige aanranding nadat video’s aan die lig gekom het wat aanrandings op die skoolterrein wys.
Ses van die beskuldigdes het in die gewone hof verskyn, en twee in die jeughof. Hulle word deur agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer in die gesig gestaar.
Volgens die staat het die beskuldigdes vaste woonadresse, geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle nie, en daarom is borgtog nie teengestaan nie.
Die seuns word deur agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer in die gesig gestaar. Foto: Facebook
Die hof het borgtog van R2 000 elke toegestaan, onder streng voorwaardes: Hulle mag nie met die klaers of getuies in verbinding kom nie, moet die skoolterrein vermy, en mag nie by enige misdaad betrokke wees nie.
Vyf selfone en PIN-kodes is reeds aan die ondersoekbeampte oorhandig; een toestel moet binne 24 uur ingedien word.
Die saak is uitgestel tot 20 Januarie 2026 om die beskuldigdes in staat te stel om hul eindeksamens af te lê. Die Wes-Kaapse departement van onderwys het bevestig die leerders sal tuis studeer en hul eksamens by die Metro-Noorddistrikskantoor aflê.
Identiteit weerhou
Die hof het beveel die identiteit van die beskuldigdes mag nie bekend gemaak word nie. Hul name, foto’s, adresse en dié van hul gesinne mag nie gepubliseer word nie.
Die hofverskyning volg nadat ’n skokkende video vroeër vandeesweek deur die ma van ’n graad 10-leerling op sosiale media geplaas is. Die video, wat intussen wyd vesprei is, wys hoe haar seun deur ander leerlinge met ’n tuinslang, ’n belt, ’n hokkiestok en ’n stuk hout geslaan word terwyl hy smeek hulle moet ophou.
Die skuldiges sluit glo lede van die skool se eerste rugbyspan in, berig IOL.
Nog video’s
Sedertdien het nog twee video’s luidens berigte aan die lig gekom wat soortgelyke voorvalle toon – met minstens een van die oortreders in die oorspronklike video wat ook ander leerlinge aangerand het.
Bronne naby aan die ondersoek het aan News24 bevestig die beskuldigdes het hulle Donderdagoggend aan die polisie oorgegee.
Die departement van onderwys sê die situasie word noukeurig dopgehou en ondersteuning gaan aan die slagoffers verskaf word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh