On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Inheemste plante: R12 miljard vir landbou-ekonomie ontsluit

───   15:16 Thu, 06 Nov 2025

Inheemste plante: R12 miljard vir landbou-ekonomie ontsluit | News Article
Duiwelsklou is ’n medisinale plant wat goed is vir gewrigspyn en spysverteringsprobleme. Foto: Wikipedia

Die minister van landbou se insluiting van inheemse gewasse en tradisionele medisinale plante op die lys van verklaarde landbouprodukte kan ’n landbousektor met ’n geskatte waarde van R12 miljard per jaar ontsluit.

Volgens die Nasionale Raad vir Landboubemarking verteenwoordig hierdie sektor minder as 3% van Suid-Afrika se totale landbouproduksie, wat tans sowat R450 miljard per jaar beloop. Die wysiging, wat op 21 Julie goedgekeur is, beteken hierdie produkte kan nou ingevolge die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte (Wet 47 van 1996) val.

“Te lank het ons mense wat tradisionele medisyne en inheemse gewasse oes en verhandel, in die ekonomiese skaduwees gefunksioneer. Hierdie wetgewende verandering bied erkenning, waardigheid en ’n pad na voorspoed,” sê John Steenhuisen, minister van landbou, in ’n mediaverklaring.

Sy departement bly daarop toegespits om wetgewing en regulasies te moderniseer om tegnologiese vooruitgang en vernuwing in die sektor te bevorder. 

Die boegoei-plant word gebruik vir urienweginfeskie en maagprobleme. Foto: Wikipedia

“Verouderde wetgewing belemmer die vinnige aanvaarding van nuwe praktyke en oplossings wat noodsaaklik is vir beter opbrengs, gesondheid en winsgewendheid.”

Die handel in tradisionele medisinale plante word op ongeveer R3 miljard per jaar geraam, waarvan die meeste nie deur formele kanale vloei nie. Dit dra dus by tot die bruto binnelandse produk, sonder dat dit in amptelike statistieke weerspieël word. Inheemse gewasse dra na raming R9 miljard by.

Die oorspronklike lys van verklaarde landbouprodukte is in 1997 gepubliseer en sedertdien meermale aangepas. 

Boegoe, duiwelsklou en oorpeultjie

Inheemse gewasse sluit in graan (soos giers en die Bambara-grondboontjie), vrugte (soos maroela, wildepruim en suurpruim), en groente. 

Die groente sluit in die amadumbe, ’n tradisionele wortelgroente wat inheems is aan dele van Suider-Afrika en veral verbou word in KwaZulu-Natal, die marambaboon, ’n voedsame peulgewas wat in die Kalahari voorkom, die oorpeultjie (cleome), ’n kruieplant wat wyd voorkom in Suider-Afrika, en wildeals.

Voorbeelde van erkende medisinale plante sluit in:

  • Boegoe: gebruik vir urienweginfeksies en maagprobleme.

  • Hoodia: tradisioneel gebruik as eetlusdemper.

  • Sutherlandia: bekend as “kankerbos”, vir immuniteitsversterking.

  • Duiwelsklou: vir gewrigspyn en spysverteringsprobleme.

  • Aalwyn: vir brandwonde en velirritasies.

  • Wildeals: vir koors, verkoues en spysvertering.

Verteenwoordigende liggame van hierdie produkte kan voortaan aansoek doen om statutêre maatreëls soos heffings en registrasies, mits dit aan die vereistes van die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte voldoen. Sodra goedgekeur, kan geld ingesamel word om die betrokke landbousektore te ontwikkel en werksgeleenthede te skep.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.