On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

LP’s hoor 10% van SA polisiekantore is ‘te haglik vir menslike gebruik’

───   11:38 Mon, 01 Dec 2025

LP’s hoor 10% van SA polisiekantore is ‘te haglik vir menslike gebruik’ | News Article
Polisielede in die Vrystaat maak die naweek gereed vir ’n operasie. Foto: SAPD

Tientalle polisiekantore in die land is nie geskik vir menslike gebruik nie, en Noordwes, die Noord-Kaap en Vrystaat suig aan die agterste speen wat die instandhouding van dié kantore betref.

Dit blyk uit ’n parlementêre antwoord deur Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, op ’n vraag van Makashule Gana, Rise Mzansi-LP. Altesaam 118, ongeveer 10% van die 1 165 polisiekantore landwyd, is geklassifiseer as “onbewoonbaar en/of nie bevorderlik om produktiewe werk in te verrig nie”, lui Cachalia se antwoord. 

Dit sluit in 23 in Noordwes, die meeste in die land, nege in die Noord-Kaap en vyf in die Vrystaat.

Firoz Cachalia (middel), waarnemende minister van polisie, vroeër vanjaar met die opening van die Sonskyn-polisiekantoor in Bloemfontein. Foto: Clement Matroos

Voorts word die toestand by nog 184 polisiekantore as “swak” geklassifiseer ingevolge die wet op onroerende staatsbates. Dringende strukturele opknappings is nodig. Bo-aan dié lys is die Oos-Kaap met 89 polisiekantore. Altesaam 14 is in die Vrystaat, vyf in Noordwes en een in die Noord-Kaap.

Vir die huidige boekjaar is R305,77 miljoen begroot vir strukturele verbeterings aan polisiekantore, waarvan R34,65 miljoen, of net meer as 11%, teen 21 Oktober bestee was. Hier is ’n sistemiese mislukking ter sprake om noodsaaklike infrastruktuur in stand te hou en polisiebeamptes te ondersteun, sê Gana in sy reaksie, berig IOL.

“Ons kan nie van polisiebeamptes verwag om te presteer terwyl die dakke in mekaar val en hulle in onveilige toestande moet werk nie. Hierdie kantore is die ruggraat van gemeenskapsveiligheid – en dit stort in duie,” sê hy.

Makashule Gana, LP van RiseMzansi, sê die land he polisiekantore nodig wat veilig en funksioneel is met goeie hulpbronne. Foto: Facebook

Die aard van die verlangde verbeterings, insluitend stukturele herstelwerk, loodgieter- en elektriese werk, asook veiligheidsopknappings, word nog ontleed, luidens Cachalia se antwoord. 

Die polisie het ’n verkrygingsproses begin om professionele diensverskaffers aan te stel om die situasie by die betrokke kantore te assesseer. 

In weerwil van die agterstande is daar ook vordering, sê Cachalia. Dit sluit in 11 infrastruktuurprojekte wat in die huidige boekjaar afgehandel is, waaronder die oprig van ’n nuwe polisiekantoor, twee beplande instandhoudingsprojekte, en agt projekte waarin aanhoudingselle opgeknap is.

Gemeenskappe verdien beter

Nog 35 projekte behoort teen die einde van die boekjaar afgehandel te wees, insluitend die oprig van nog sewe nuwe polisiekantore.

Gana sê Rise Mzansi sal die implementering van verbeteringsprojekte met ’n valkoog dophou en eis deursigtigheid en dringendheid.

“Ons het polisiekantore nodig wat veilig en funksioneel is met goeie hulpbronne – veral in provinsies waar die misdaadsyfer hoog is terwyl die infrastruktuur in duie stort. Ons gemeenskappe verdien beter.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.