South Africa
Smeer maar vet, jy sal verkeersboetes moet betaal!─── 11:13 Tue, 02 Dec 2025
Daardie onbetaalde verkeersboetes kan jou vakansiereis vanjaar lelik bederf, omdat verkeersoortredings nou op ’n nasionale databasis begin verskyn en landwyd sigbaar is.
Hoewel die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) eers middel volgende jaar ten volle in werking tree, het die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) en verskeie munisipaliteite reeds die data op hul stelsels begin sinchroniseer.
Motoriste ervaar reeds die gevolge hiervan. Mense oor die land heen kry te doen met lisensiehernuwings wat nie kan plaasvind nie, dagvaardings, stygende boetes en selfs die nuus by padplokkades dat jou motor deur die stelsel “gemerk” is.
‘32 miljoen uitstande boetes’
Dit alles is deel van die oorgang na meer geoutomatiseerde, geïntegreerde en ongenaakbare wetstoepassing waarvoor Aarto voorsiening maak.
RTIA-data wys daar is meer as 32 miljoen uitstande boetes landwyd. Die proses om stelsels te integreer is aan die gang en dié onbetaalde boetes duik nou op in roetine Natis-transaksies en vakansiewetoepassingsoperasies,sê Barry Berman, uitvoerende hoof van Fines SA.

Die polisie in die Noord-Kaap het reeds begin om motors by verifiëringspunte na te gaan. Foto: SAPD
Fines SA is ’n verkeersoortredingsplatform waarop die publiek kan nagaan watter verkeersoortredings landwyd is daar teen hulle naam, en dit ook kan verifieer en vereffen.
“Motoriste is geskok as hulle vasstel hul lisensie kan nie hernu word nie of dat hul voertuig ‘gemerk’ is,” sê Berman. “Die dae is verby dat boetes nie waargeneem word nie of geïgnoreer word.
Selfs nog voor die volle inwerkingtreding van Aarto, bring intydse data-integrasie mee dat jou bestuursrekord jou oral agtervolg. Dit is waarom ons bestuurders sterk aanmoedig om gereeld na te gaan of daar uitstaande boetes is en dit deur veilige platforms soos Fines SA te betaal.
Aarto, wat onder meer voorsiening maak vir ’n strafpuntstelsel vir padverkeersmisdrywe landwyd, asook vir beter stelselintegrasie tussen onder meer munisipaliteite, tree op 1 Julie 2026 in werking.
Wat op motoriste wag
Danksy die beter stelselintegrasie wat reeds in werking begin tree en die vroeë toetsing van Aarto-wetstoepassingsmeganismes kan motoriste hulle op die volgende voorberei:
- geen voetuiglisensie- en rybewyshernuwings totdat alle boetes betaal is;
- wetstoepassingsopdrag wat ’n lisensie of voertuigregistrasie kan opskort;
- dagvaardings om in die hof te verskyn vir onbetaalde boetes of selfs lasbriewe sou dit geïgnoreer word;
- die ophoop van boetes vir laat betalings;
- versekeringskomplikasies as daar met opgeskorte of ongeldige rybewyse bestuur word; en
- die ontwrigting van maatskappye se volle vlootbestuur wanneer ondernemings se registrasienommers versper word.
Met die aanbreek van die feestyd het die wetstoepassingsowerhede reeds bevestig meer intensiewe padblokkades en verifiëringspunte sal in Desember en Januarie opgestel word.
Verlede Desember alleen is meer as 1,2 miljoen boetes landwyd uitgereik, talle by vakansiepadblokkades.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

