On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Man gevonnis wat bejaarde aanrand oor sleutels

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:59 Thu, 16 Jul 2026

Man gevonnis wat bejaarde aanrand oor sleutels | News Article
Dylan Ferreira. Foto: Facebook

Die man wat ’n bejaarde vrou tydens ’n rusie oor spaarsleutels ernstig aangerand het, is ná ’n byna drie jaar lange hofstryd gevonnis.

Dylan Ferreira (31) is Donderdag (16/7) deur die Booysens-landdroshof in Johannesburg ’n boete van R10 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, vir vyf jaar opgeskort. Hy is ook gelas om R10 000 skadevergoeding aan Lucille Oosthuysen (82) te betaal, sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Hy is reeds in Mei 2024 skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat ’n video, wat die aanranding vasgevang het, was volgens die eenheid deurslaggewend in Ferreira se skuldigbevinding.


AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Oosthuysen en haar man, Will, tydens die uitgerekte hofproses bygestaan en die NVG van oudiovisuele toerusting voorsien om beeldmateriaal van die aanval in die hof te vertoon.

Die aanranding het op 5 Augustus 2023 by die egpaar se woning in Mayfield, suid van Johannesburg, plaasgevind ná ’n rusie oor ’n stel spaarsleutels vir ’n eiendom wat Ferreira en sy lewensmaat by die Oosthuysens gehuur het. “Ferreira het Oosthuysen met geweld teen die grond gestamp. Sy het ’n wond aan die agterkop, ’n gekraakte linkerpols en ernstige kneusplekke aan haar heup opgedoen,” sê Bateman.

Adv. Gerrie Nel, die slagoffer se dogter Theresa Daniels, die slagoffer, Lucille Oosthuysen, en haar man, Will.

Ferreira het tydens die verhoor aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het, maar landdros Nicola Olivier het die aanval as wreedaardig beskryf. Sy het tydens vonnisoplegging beklemtoon bejaardes moet teen geweld beskerm word en Ferreira sal vir die res van sy lewe met die gevolge van sy optrede moet saamleef.

As verswarende omstandigheid het die staat ook ’n Facebook-video aan die hof voorgelê waarin Ferreira oor ’n onverwante voorval spog waarin hy na bewering ’n bejaarde man met ’n glas aangerand het. Die uitlatings, tesame met die feit dat sy slagoffer ’n bejaarde vrou was, het swaar teen hom getel.

“Hoewel die eenheid van mening was dat direkte gevangenisstraf gepas sou wees gegewe Oosthuysen se ouderdom en die aard van haar beserings, bring die skuldigbevinding tog ’n mate van afsluiting vir die slagoffer en haar familie,” sê Bateman.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.