South Africa
‘Boervolk’ eis KwaZulu-Natal, deel van Oos-Kaap van regering ‘terug’─── 10:21 Tue, 03 Feb 2026
’n Afrikaner-separatistegroep, bekend as die Oranjevrijstaat-Boervolk, sê groot dele van Suid-Afrika, insluitend KwaZulu-Natal en die noorde van die Oos-Kaap, behoort aan hom en is in die 1840’s onregmatig deur Brittanje afgeneem.
Die groep se amptelike eis, wat op 23 Januarie in die Staatskoerant gepubliseer is, steun op die Verenigde Nasies se Resolusie 1514 oor die afskaffing van kolonialisme. Volgens die groep het Brittanje hierdie gebied van sowat 9 miljoen ha onregmatig gekoloniseer en die Boerevolk onteien.
Die Boervolk voer aan die grond behoort aan hulle en die huidige demokratiese regering van die land beset dit onregmagtig, berig Business Day.
In die dokument verklaar die groep Brittanje het boonop sonder vergoeding beslag gelê op die private plase van Boere. Hulle eis nou die regstelling van die titelaktes, asook terugbetaling van verlore inkomste en vergoeding vir die swaarkry wat hulle moes verduur.

Die KwaZulu-Natalse kusgebied. Foto: Facebook
Die Boervolk roep die regering op om in gesprek te tree met die “waarnemende volksraad van die Oranje-Vrijstaat-republiek” oor die “vreedsame oordrag van beheer” oor die betrokke gebiede.
Die eis volg kort ná die Zoeloenasie se 147ste herdenking van die Slag van Isandlwana. Tydens dié vieringe het koning Misuzulu kaZwelithini gepleit dat KwaZulu-Natal hernoem word na “KwaZulu”, soos dit voor kolonialisasie bekend was.
Die Boervolk verwys ook na ’n toespraak deur pres. Donald Trump op die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, waarin hy sy aanspraak op Groenland herhaal het. Volgens die groep versterk dit hul argument koloniale grondbesit kan steeds internasionaal bevraagteken word.

Plaasgrond in KwaZulu-Natal. Foto: X
Wim Rossouw, Boervolk-woordvoerder, het aan Business Day gesê die grond is oorspronklik van die Zoeloekonings Dingaan en Mpande gekoop, lank voor die Britse anneksasie van 1843. “Ons is die regmatige eienaars van hierdie land en gebied. Ons kan nie weer betaal vir wat reeds betaal is nie.”
Die groep se plan behels die herstigting van die “Republiek van Natalia”, wat in 1839 deur die Boere gevestig is, maar vier jaar later deur Brittanje geannekseer is.
Die eis kom te midde van die verdelende debat oor grondbesit in Suid-Afrika. Pres. Cyril Ramaphosa het verlede jaar die Onteieningswet onderteken wat voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding in die openbare belang.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

