On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

‘Staak reuse-waterverliese eerder as om in duur projekte te belê’

───   12:01 Tue, 03 Feb 2026

‘Staak reuse-waterverliese eerder as om in duur projekte te belê’ | News Article
Die Katse-dam is deel van die Lesotho-Hoogland-waterskema. Foto: X/Martin Sobey

Eerder as om miljarde te spandeer op nuwe damme en tonnels, moet Suid-Afrikaanse munisipaliteite hul waterverliese drasties verminder.

Dr. Sean Phillips, direkteur-generaal van water en sanitasie, het by ’n infrastruktuurgesprek in Johannesburg gewaarsku Suid-Afrika kan nie vir ewig water uit Lesotho kan pomp nie. Die Lesotho-Hoogland-waterprojek, wat reeds sedert 1986 bestaan, het reeds die vloei van die Oranjerivier sodanig verminder dat dit groot argwaan van Namibië ontlok.

Die buurland is “baie kwaad” oor die wyse waarop die projek die vloei van die Oranjerivier verminder, en weier tans om ’n sogenaamde “geenbeswaar-brief” te verskaf wat aan finansiers gegee kan word vir die tweede fase van die projek. Fase twee, wat die Polihali-dam en ’n 38 km-oordragtonnel insluit, is halfpad voltooi en die plan is dat dit in die 2028/29-boekjaar klaar sal wees

Die Mohale-dam in Lesotho is ook deel van die projek. Foto: X/Martin Sobey

Die koste beloop reeds R53 miljard, berig News24. Phillips wys egter daarop die oplossing lê nie in Lesotho nie, maar in provinsies soos Gauteng se eie waterbestuur. 

Hy sê gemiddeld 35% van munisipale water in Gauteng word vermors of gaan verlore – veel meer as Kaapstad se 25%, waar ’n sterk bewusmakingsveldtog tydens die Dag Zero-krisis groot verbeterings teweeggebring het. 

“Dit maak nie sin om miljarde te spandeer op projekte soos fase twee van die Lesotho-Hoogland-projek terwyl daar soveel vermorsing is nie,” het Phillips gesê. “As ons nie hierdie hoë vlakke van verliese gehad het nie, en as water spaarsamiger gebruik is, sou Gauteng genoeg water gehad het.” 

‘Ons kan nie vir ewig water uit Lesotho se berge neem nie’

Namibië se weiering hou verband met die risiko dat die Oranjerivier se vloei verder sal afneem. Hoewel Phillips verduidelik die brief raak minder as 10% van die finansiering wat nodig is en dat die Trans-Caladon-tonnelowerheid elders geld kan leen indien nodig, bly die kwessie ’n teken van groeiende druk uit die streek.

Hy het beklemtoon Suid-Afrika moet sy bure in ag neem. “Ons kan nie vir ewig water uit Lesotho se berge neem en dan is daar nie genoeg vir Namibië nie.” 

Die alternatief wat oorweeg word, is om water vanaf die Tugela-opvangsgebied in KwaZulu-Natal te pomp – ’n projek wat nóg duurder as Lesotho se fase twee kan wees. 

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.