South Africa
Polisiebeamptes se verhoor begin ná moord op vrou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:20 Wed, 08 Apr 2026
Die driedaagse verhoor van twee Gautengse polisiebeamptes, wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n jong vrou vermoor het, begin Dinsdag (14/4).
Byna 15 maande ná die moord op Chesnay Patricia Keppler (22), ’n Gautengse teenmisdaadbeampte, sal die moordverhoor tot 17 April in die hooggeregshof in Johannesburg duur. Sy is in die vroeë oggendure van 26 Desember 2024 noodlottig gewond by haar huis in Eldoradopark, suid van Johannesburg.
“Sers. Mandlenkosi Gladman Buthelezi (43) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot ontvoering, drie aanklagte van aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging en regsverydeling,” sê Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder.
Sy medebeskuldigde, konst. Llewellyn Meyers (36), staan tereg op aanklagte van regsverydeling, twee aanklagte van aanranding en drie van poging tot moord.

Chesnay Patricia Keppler is in 2024 vermoor. Foto verskaf
Buthelezi het na bewering ongenooid en dronk by die woning van Keppler, met wie hy in ’n verhouding was, opgedaag en haar aangerand. Hy het glo probeer om haar in ’n voertuig te dwing, maar sy het geweier om saam met hom te gaan. Keppler en ’n ander vrou het toe uit die huis gevlug.
Volgens Mohlatlole is Keppler meermale deur haar kombuisvenster geskiet en het kort daarna in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gesterf. Sy het gereeld saam met beamptes van die Eldoradopark-polisiekantoor gewerk en was op Kersdag van diens af.
Ná die voorval het Buthelezi glo van die toneel gevlug, waar hy homself na bewering geskiet het. Hy is later in die hospitaal opgeneem en onder polisiebewaking geplaas voordat hy in hegtenis geneem is.
“Sy was een van ons, en haar lewe is geneem deur iemand
wat die gemeenskap vir beskerming vertrou het”
Volgens ActionSA-LP Dereleen James het Buthelezi haar voorheen mishandel en was hy na bewering betrokke by korrupte bedrywighede.
Meyers is later in hegtenis geneem en as medebeskuldigde bygevoeg nadat dit in die ondersoek geblyk het dat albei beskuldigdes op 25 Desember 2024, kort voor die moord, saam ’n partytjie in Eldoradopark bygewoon het.
“Meyers is op borgtog vrygelaat hangende die verhoor, terwyl Buthelezi in aanhouding bly,” sê Mohlatlole.
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het ná haar dood gesê die sinnelose moord op ’n teenmisdaadbeampte het die gemeenskap van Eldoradopark van ’n “onselfsugtige en vreeslose dienaar van die mense” beroof.
“Sy was een van ons, en haar lewe is geneem deur iemand wat die gemeenskap vir beskerming vertrou het. Ons sal verseker die oortreder word gestraf.”
OFM Nuus sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
