South Africa
Vroeë griepseisoen lei tot dringende oproep vir inenting─── ZENANDE MPAME 14:00 Fri, 10 Apr 2026
Met dié dat Suid-Afrika se 2026-griepseisoen vroeër as verwag begin het, vra gesondheidsamptenare mense moet hulle dringend laat inent.
Die griepseisoen het amptelik in die eerste week van Maart begin. Die begin van die seisoen is gewoonlik eers in die laat herfs of vroeg in die winter, dikwels in Mei of Junie, volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).
Die RSV–seisoen (respiratoriese sinsitiale virus) het ook in die eerste week van Maart begin. Die gelyktydige begin van die griep- en RSV-seisoene beteken daar kan in die komende weke ’n groot aantal pasiënte met respiratoriese siektes by mediese fasiliteite aanklop.
Seisoenale griep word algemeen veroorsaak deur stamme soos influensa A(H3N2), A(H1N1)pdm09 en influensa B. Hoewel die meeste mense ligte simptome ervaar wat binne drie tot sewe dae weggaan, kan die virus tot ernstige komplikasies, hospitalisasie of selfs die dood lei.
“Hierdie seisoen het reeds begin, en dit is nou-eers herfs,” sê prof. Cheryl Cohen, hoof van die Nios se sentrum vir respiratoriese siektes en meningitis. “Gewoonlik begin die griepseisoen eers in die winter.
“Verlede jaar het ons ook ’n vroeë griepseisoen gehad. Mense moet weet dat die griepseisoen vanjaar vroeg begin het. Dit beteken dit is nou die tyd om jou inenting te kry en jouself te beskerm.
Griep is een van die mees onvoorspelbare virusse wat bekend is. “Dit is onmoontlik om presies te voorspel wanneer die seisoen sal begin. Soms begin dit vroeër, en soms later,” het sy gesê.
Om die verspreiding van griep te beperk, word mense aangeraai om:
• hoes en nies met jou elmboog of ’n sneesdoekie te bedek;
• gereeld jou hande te was;
• tuis te bly as jy siek voel; en
• noue kontak met siek mense te vermy.
Die instituut doen ’n beroep op mense in hoërisikogroepe vir ernstige griep om hulle so gou as moontlik te laat inent.
Die hoërisikogroep sluit in swanger vroue, mense wat met MIV leef, dié met chroniese siektes soos diabetes, hartsiektes, longsiekte, tuberkulose, niersiekte en vetsug, asook volwassenes ouer as 65 jaar en kinders jonger as twee jaar.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

