On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Veranderings aan geskiedenisleerplan lok reaksie

───   SUSAN MARÉ 16:20 Wed, 15 Apr 2026

Veranderings aan geskiedenisleerplan lok reaksie | News Article
Die FAK het ’n petisie begin om besware aan te teken oor die nuwe geskiedeniskurrikulum. Foto verskaf

Kommer heers in sommige kringe oor die konsepweergawe van die departement van basiese onderwys se voorgestelde nuwe leerplan vir geskiedenis vir gr. 4 tot 12.

Wat die konsep voorstel, is ’n meer Afrikagerigte benadering, weg van ’n tradisionele Eurosentriese raamwerk. Hiervolgens kan temas soos die Franse Revolusie (gr. 10) en die VSA-burgerregtebeweging (gr. 12) moontlik verwyder of vervang word deur onderwerpe oor antieke Afrika-ryke en bevrydingsbewegings.

Terwyl sommige waarnemers ontstig is, word dit ook verwelkom. Prof. Jonathan Jansen, ’n gerekende opvoedkundige akademikus, sê in die media die voorgestelde verandering aan die kurrikulum kan leerders verarm deur anti-intellektualisme en ’n verlies aan globale konteks.

Die verwydering van groot wêreldgebeure kan leerders se begrip van globale geskiedkundige prosesse beperk. Die FAK sê intussen in ’n klagskrif wat hy begin het, die veranderinge aan die leerplan is “ ’n aanval op historiese waarheid”.


Dr. Danie Langner, besturende direkteur, sê in ’n sterk bewoorde verklaring oor die voorgestelde wysigings wat Siviwe Gwarube, minster van basiese onderwys, in die Staatskoerant gepubliseer het, die wysigings sal juis die land se ryk geskiedenisverhaal verarm en ’n nuwe geslag van die voorreg ontneem om te ontdek hoe grootse gebeure die land gevorm het.

“Die Groot Trek, byvoorbeeld, was nie ’n mooi mite of uitvloeisel van magsug nie, maar ’n komplekse reaksie op Britse imperialisme, onveilige grensgebiede en ’n stryd om selfbeskikking.

“Dit is deel van die begrip van 19de-eeuse wêreldpolitiek, koloniale dinamika en die ontstaan van vroeë republikeinse tradisies in Suider-Afrika. Net so kan die Anglo-Boereoorlog nie sommer so uit die geskiedenisboeke geskryf word nie.”

Lindie Koorts, ’n bekende akademikus en kommentator aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto verskaf

Die FAK se landwye petisie wil die voorgestelde wetgewing keer en ’n stokkie steek voor wysigings “wat die Afrikanergeskiedenis doelbewus uitskuif”. Geskiedenis kan nie verskraal, verdraai of verwyder word om ’n politieke ideologie te dryf ten koste van akademiese balans en kennisoordrag nie.

Dit plaas nie net die integriteit van geskiedenisonderrig in Suid-Afrika onder verdenking nie, maar trek doelbewus ’n streep deur ’n deel van die Afrikaner se historiese geheue. Mense word landwyd op die sosiale media soos Facebook aangemoedig om die FAK se petisie te onderteken.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) neem kennis van die uitreiking van die voorgestelde kurrikulum as ’n progressiewe en tydige ingryping in die versterking van die onderwysstelsel.

Die Pan-African Congress in 1921. Foto verskaf

Luidens ’n mediaverklaring pleit Sadou lank reeds vir die dekolonisering van onderwys en die geskiedenisleerplan. Hiervolgens is geskiedenis vir te lank vanuit ’n koloniale, Eurosentriese perspektief onderrig terwyl die Afrikaperspektief geïgnoreer word.

“Ons hoop dat die konsepgeskiedeniskurrikulum ’n stap is om hierdie wanbalans aan te spreek.”

Sadou het nie net ’n geskiedenisplan met ’n Afrikaperspektief geëis nie, maar dat geskiedenis ’n verpligte vak gemaak word om ’n nasionale identiteit en maatskaplike samehorigheid te bevorder.

Die begrip van uiteenlopende kulture en samelewings moet aangemoedig word en leerders gehelp word om die wêreld om hulle te verstaan en te waardeer ter wille van ’n gevoel van identiteit, empatie en kritiese denke.

Een van Tinus le Roux se boeke in kleur oor die Anglo-Boereoorlog word geproeflees. Foto verskaf

Sadou sê hy bly verbind tot samewerking met alle belanghebbendes om gehalte- openbare onderwys te bevorder en te verseker dat geskiedenisonderrig bydra tot die bou van ’n regverdige, billike en verenigde Suid-Afrika.

Dr. Lindie Koorts, historikus en kommentator aan die Universiteit van die Vrystaat, skryf op Facebook nadat sy met ’n TV-kanaal gesels het: “Daar is heelwat misleidende beriggewing en uitsprake oor die leerplan. Is die leerplan ideologies belaai? Ja – net soos die vorige een én die een vóór hom.

“Die kinders leer nog steeds van Jan van Riebeeck – maar die kurrikulum begín nie by hom nie. Die Groot Trek is steeds daar – want die kurrikulum dek Europese uitbreiding na die binneland. Die ABO is nie verwyder nie – hy is van gr. 10 na gr. 8 verskuif, wat beteken méér kinders gaan daaroor leer.

“Geskiedenis is nog nie ’n verpligte vak nie, en niemand weet of dit gaan word nie. Daar word baie oor Afrika geleer, maar Afrika binne ’n wyer, globale konteks.

’n Familie in die konsentrasiekamp van die Anglo-Boereoorlog. Foto verskaf

Sy meen daar is gebreke en onderwerpe is weggelaat wat sy graag sou wou gesien het. “Maar dit was ook vantevore die geval. Daar bestaan nie iets soos ’n perfekte of neutrale kurrikulum nie.

“In die hande van ’n lui onderwyser sal dit blote propaganda wees. In die hande van ’n goeie onderwyser sal hierdie kurrikulum baie interessant wees. Dit kom alles op die onderwyser neer.”

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, sê geskiedenis is die anker van die land en provinsie se toekoms. “Om ons geskiedenis selektief of glad nie op skole aan te bied om ’n beperkte kulturele narratief uit te beeld, is kortsigtig en kom neer op kulturele en politieke manipulasie. Die ABO, net soos ons bevrydingsgeskiedenis, was ’n kernbelangrike deel van Suid-Afrika se erfenis.

“Die DA in die Vrystaat glo dat ons leerders op skole ons totale geskiedenis moet verstaan om proaktiewe deelnemers te wees in ons kontemporêre samelewing. Ons kinders sal intellektueel verarm wees indien ons land se geskiedenis nie in skole aangebied of beperk word.

“Suid-Afrika is ’n diverse land met ’n gesamentlike geskiedenis. Wedersydse respek vir almal se historiese erfenis is belangrik vir samewerking en versoening in ons jong demokrasie.”

Kommentaar op die voorgestelde veranderinge sluit Sondag (19/4). Suid-Afrikaners wat kommentaar wil lewer, moet dit duidelik aandui in die spesifieke CAPS-dokument met bladsyverwysings. Dit kan na die DBO gestuur word na Florence Modipa. 

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.