South Africa
Opposisie eis dringende hofoptrede oor Phala Phala, maar Ramaphosa skop vas─── KEKELETSO MOSEBETSI 10:37 Tue, 12 May 2026
Opposisiepartye eis die Phala Phala-diefstalsaak moet dringend op ’n hofrol geplaas word ná president Cyril Ramaphosa se besluit om voort te gaan met ’n geregtelike hersiening.
Ramaphosa weier steeds om te bedank ná verlede week se uitspraak van die Konstitusionele Hof. Die parlement is gelas om die Phala Phala-saak deur middel van ’n vervolgingskomiteeproses te behartig.
In sy TV-toespraak Maandag (11/5) aan die nasie het Ramaphosa erken ál meer stemme klink op vir sy bedanking, maar daar is ook steun van dié wat daarteen gekant is. Hy hou vol die uitspraak van die Konstitusionele Hof verplig hom nie om die tuig neer te lê nie.
“Die Konstitusionele Hof het geen uitspraak gelewer oor my beweerde optrede nie. Ek wil dit onomwonde stel dat ek nie sal bedank nie,” sê Ramaphosa.
Prima facie
Die saak spruit uit ’n diefstalvoorval op Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Februarie 2020. ’n Onafhanklike paneel wat in 2022 deur die Nasionale Vergadering aangestel is, het prima facie-bewyse gevind dat Ramaphosa hom moontlik skuldig gemaak het aan ernstige oortreding, selfs van die Grondwet.
Die parlement het egter, veral danksy die ANC se meerderheidstem, besluit om nie die saak na ’n vervolgingskomitee te verwys nie. Vrydag (8/5) het die Konstitusionele Hof dié stemmery ongeldig verklaar en beslis wanneer ’n paneel ’n ondersoek aanbeveel, die parlement verplig is om op te tree “tensy en totdat die verslag deur hersiening tersyde gestel word”.
Ramaphosa is van voorneme om die bevindings van die artikel 89-paneel in die hof te betwis. Hy het reeds in 2022 met regstappe begin, maar dit laat vaar nadat die parlement besluit het om nie op die paneel se ongunstige bevindings te reageer nie.
Sinawo Thambo, EFF- nasionale woordvoerder, sê Ramaphosa se besluit om ’n geregtelike hersiening te versoek, verbaas hulle nie en getuig van ’n “gebrek aan gewete”.
“Die EFF het vroeër (Maandagmiddag) reeds voorsien dat hy die verslag op geregtelike hersiening sou neem en ons het die mense van Suid-Afrika herinner dat dit dieselfde individu is wat in 2022 ’n geregtelike hersiening ingedien en later teruggetrek het, omdat hy gedink het hy het dit polities suksesvol onderdruk deur middel van ’n ongrondwetlike meerderheidstemming,” sê Thambo.
Geordin Hill-Lewis, DA-leier, sê die parlement moet dringend regsduidelikheid kry oor hoe Ramaphosa se hersieningsaansoek die instelling en werking van ’n vervolgingskomitee kan beïnvloed. “Die parlement moet nou ook dringend regsadvies inwin oor die implikasies van die president se komende hersiening.
“Dit sluit in of dit die instelling en werk van die vervolgingskomitee raak en of die komitee kan voortgaan terwyl die hersiening aan die gang is. Hierdie saak moet wettig, deursigtig en met die grondwetlike erns wat dit verdien, hanteer word.”
“Die DA sal hom steeds laat lei deur die Grondwet, die oppergesag van die reg en die regsposisie voor die parlement. Dit bly ’n krisis wat deur die ANC geskep is, gewortel in ernstige onbeantwoorde vrae oor die president se optrede en die ANC se lang geskiedenis om sy eie leiers teen aanspreeklikheid te beskerm.”
André Duvenhage, politieke ontleder aan die NWU, sê dit lyk asof Ramaphosa tyd probeer koop deur die regsproses. “Hy volg wat ons graag die Stalingrad-strategie noem en hy skop eenvoudig die bal vorentoe in ’n poging om te oorleef. Daar is geen rede waarom hy nie ten minste op kort termyn suksesvol kan wees nie.”
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

