On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Lang tronkstraf vir Pretoriase vroedvrou gee ma afsluiting

───   ZENANDE MPAME 15:46 Fri, 29 May 2026

Lang tronkstraf vir Pretoriase vroedvrou gee ma afsluiting | News Article
Yolande Maritz-Fouché is op 14 aanklagte skuldig bevind. Foto verskaf

“My kind se gees kan uiteindelik rus, wetende dat geregtigheid geskied het,” sê Alysia von Kloëg-Scholtz, ’n slagoffer van die eienaar van die You & Me-sentrum.

Die vroedvrou is Donderdag (28/5) tot 23 jaartronkstraf gevonnis ná die dood van twee babas tydens bevallings. Die hooggeregshof in Pretoria het Yolande Maritz-Fouché (48) verlede maand op 14 aanklagte skuldig bevind.

Nog twee babas is met gestremdhede gelaat ná bevallings by haar You and Me-sentrum in Pretoria. Fouché is tronk toe gestuur vir ’n reeks ernstige oortredings teen swanger vroue en babas tussen 2019 en2020.

Sy is skuldig bevind op verskeie aanklagte, insluitend aanranding, aanranding waar daar ’n regsplig bestaan het, strafbare manslag, bedrog en die indiensneming van ’n ongekwalifiseerde persoon.


Die hof het vyf jaar tronkstraf opgelê op ses aanklagte van aanranding, vyf jaar op elke aanklag van aanranding waar daar ’n regsplig bestaan het, agt jaar vir die strafbare manslag van die nege dae oue Noah von Kloëg, twee jaar vir bedrog en 12 maande vir die indiensneming van ’n ongekwalifiseerde persoon. Verskeie van dié vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

“Vandag is ’n merkwaardige dag vir ons hier in die hof,” het Noah se ma, Alysia von Kloëg-Scholtz, ná die vonnisoplegging gesê. “Vandag kan ek huis toe gaan en asemhaal. Ek kan begin om die dinge te verwerk waarmee ons nooit voorheen kon afreken nie, sonder om aan te hou veg.

“Ek sal vir altyd dankbaar wees teenoor die regter,die staatsadvokate, Carte Blanche en almal wat ons deur hierdie proses gehelp het. Dit was ’n lang reis; dit was nooit maklik nie, dit was moeilik, maar vandag is dit verby.


“Geregtigheid is yskoud bedien. Die monster is nou agter tralies waar sy hoort, en ek weet ons baba se gees kan rus omdat geregtigheid geskied het.”

Die hof het gehoor dat Fouché, wat vanuit haar praktyk in Murrayfield gewerk het, voorgeboortesorg verskaf en bevallings behartig het sonder om pasiënte vir spesialis mediese behandeling te verwys wanneer komplikasies ontstaan het.

Volgens getuienis in die verhoor het sy middels soos Cytotec of Oxytocin toegedien om die kraamproses te begin of te versnel sonder haar pasiënte se medewete. Een van die sake het gehandel oor baba Noah von Kloëg, wat nege dae ná sy geboorte dood is weens komplikasies wat met nalatige sorg verbind is.

Jennifer Cronje, staatsadvokaat, het getuienis van slagoffers, deskundige getuies van die Steve Biko- akademiese hospitaal en Fouché se eie dogter aan die hof voorgelê. Regter Papi Mosopa het beslis dat die beskuldigde geen berou getoon het nie en nalatig opgetree het deur kritieke risiko’s te ignoreer.

“Die regter het beklemtoon dat elkeen ’n grondwetlikere g op lewe het en dat Fouché geen reg gehad het om die lewe van haar pasiënte en hul kinders in gevaar te stel nie,” sê Lumka Mahinjana, Gautengse NVG-woordvoerder.

“Die NVG bevestig weer sy onwrikbare verbintenis tot die bekamping van misdade teen vroue en kinders. Hierdie vonnis bring nie net ’n mate van geregtigheid en afsluiting vir die betrokke families nie, maar bevestig ook die beginsel dat niemand bo die reg verhewe is nie.”

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.