South Africa
Geen spoor van troetelkat ná hy voor vlug wegraak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:18 Fri, 31 Jul 2026
Die kat kom weer, lui die volksliedjie, maar ’n troetelkat word al langer as twee weke vermis nadat hy voor ’n Airlink-vlug op die Kaapstadse Internasionale Lughawe weggeraak het.
Kat sou op 19 Julie as ingeboekte bagasie van Kaapstad na Johannesburg vervoer word. Sy eienaar het egter met haar aankoms in Johannesburg ontdek dat hy nie meer in sy reishouer was nie.
Linden Birns, Airlink-woordvoerder, sê Kat het vermoedelik op die lughawe weggeraak voordat die vliegtuig vertrek het. “Sedert Airlink van Kat se verdwyning bewus geword het, handhaaf die bestuur direkte kontak met Kat se eienaar en help hulle steeds met die soektog.”
Hy sê die soektog betrek Kat se eienaar, katspoorsnyers, spanne van die honde-eenheid, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en Menzies, die grondhanteringsmaatskappy wat bagasie- en ander dienste aan Airlink op Suid-Afrikaanse lughawens lewer.
Airlink het ook toegang tot beperkte gebiede gereël, begeleiding in lugkantgebiede gefasiliteer en beeldmateriaal laat nagaan in ’n poging om Kat op te spoor.

Airlink sê sy vloot van meer as 70 vliegtuie vlieg sowat 250 vlugte per dag na 47 bestemmings in 15 lande. “Tussen Januarie 2025 en einde Junie het die lugredery 8 140 troeteldiere vervoer, wat neerkom op gemiddeld 14 troeteldiere per dag.
“In dié tydperk was daar net een ander voorval waar ’n kat uit sy reishouer ontsnap het en nie weer gevind is nie. Twee honde het ook in afsonderlike voorvalle uit hul reishouers ontsnap, maar is binne ure opgespoor en met hul eienaars herenig,” sê Birns.
Hy beklemtoon dat geen van dié voorvalle die gevolg van nalatigheid deur Airlink was nie. Airlink volg die internasionale lugvervoervereniging (IATA) se Live Animals Regulations, wat wêreldwyd as die standaard vir die veilige en menswaardige vervoer van lewende diere per lug beskou word.
Die regulasies sluit voorskrifte oor temperatuur, ventilasie, hidrasie, reistyd en geskikte reishouers in om diere se veiligheid en welsyn te verseker.
“Benewens troeteldiere, word Airlink ook gereeld vertrou om onwettig verhandelde wilde diere na hul natuurlike habitatte terug te vervoer,” sê Birns.
Iemand wat by die soektog betrokke is, sê hulle het Donderdag (30/7) selfs op die lughawe se dak gesoek en KFC uitgesit in die hoop dat hy sou uitkom het, maar daar is steeds geen teken van Kat nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

