South Africa
Bontebok Nasionale Park weer oop ná vloedskade─── 13:56 Tue, 01 Sep 2026
Die Bontebok Nasionale Park by Swellendam in die Wes-Kaap is weer oop vir die publiek nadat ernstige skade herstel is ná oorstromings vroeër vanjaar.
Die Breërivier het sy walle in Mei oorstroom en groot skade veroorsaak aan chalets en veral die hooftoegangsroete na die verblyf in die park, wat feitlik heeltemal verwoes is. ’n Groot deel van die piekniekterrein by die dagbesoekersentrum, Die Stroom, is ook weggespoel.
Die totale herstelkoste bedra ’n geraamde R12,3 miljoen.
David Maynier, minister van bosbou, visserye en die omgewing, loof die Sanparke-bestuurspan vir hul vinnige optrede tydens die ramp. Hy het op ’n besoek aan die park beklemtoon die span moes blitsig reageer toe die rivier skerp gestyg het.

David Maynier, minister van bosbou, visserye en die omgewing, saam met Sanparke-personeel tydens sy besoek aan die park. Foto: Sanparke
Gaste is veilig ontruim. Toerusting en eiendom kon ook gered word. “Die vinnige noodreaksie strek die hele bestuurspan te ere,” het hy gesê.
Die hoofpad is in rekordtyd herstel en ook versterk as deel van die rehabilitasieprojek. ’n Groot hoeveelheid rommel wat deur die vloedwater meegesleur is, is ook uit die akkommodasiegebied verwyder. Ses chalets, die kampeerterrein en drie staproetes, Aalwynkop, Acacia en Termiet, is reeds heropen vir besoekers.
Werk is steeds aan die gang om die oorblywende chalets, twee staproetes, Bosbok en Ou Tuin, en die piekniekplek te herstel.

Sanparke-ereveldwagters help om die massas ontwortelde bome en stompe te verwyder. Foto: Sanparke-ereveldwagters
Maynier moedig die publiek aan om die park te besoek. “Al is daar nog baie werk wat gedoen moet word, die park is oop en dis beslis die moeite werd om hierdie pragtige deel van die Wes-Kaap te kom beleef. Ons sien uit daarna dat die Bontebok Nasionale Park van krag tot krag sal gaan namate herstelwerk voltooi word en nuwe aanbiedinge vir besoekers beskikbaar word.”
Die Sanparke-ereveldwagters het ’n stewige bydrae gelewer om dit moontlik te maak om die park begin verlede maand gedeeltelik oop te stel.
Vroeg in Junie het die Sanparke-ereveldwagters se Agulhas-streek die skade nagegaan om vas te stel waar en hoe lede die beste kon help.

Sanparke-ereveldwagters van drie streke wat gehelp het om die park gereed te kry vir gedeeltelike oopstelling. Foto: Sanparke-ereveldwagters
Die Sanparke-personeel se taak was om dringender vloedskade te herstel, en daarom was ’n paar ekstra hande nodig om die kampeerterrein in stand te hou.
Gedurende Junie het 14 lede van die Agulhas-streek die werk aan die Acacia- en Aalwynkop-roetes aangepak, berig die Sanparke-ereveldwagters op hul Facebookblad The Boma.
Modder is verwyder, vloedrommel opgeruim en ’n alternatiewe roete om die weggespoelde gedeelte van die Aalwynkop-roete geskep sodat die roetes vir heropening voorberei kon word. Die snoei van plantegroei en algemene instandhouding van die kampeerterrein het ook begin.

Die hoofpad na die Lang Elsies-ruskamp soos dit gewoonlik lyk (bo), en nadat dit onder vloedwater deurgeloop het. Die pad is in ’n rekordtyd herstel. Foto: Sanparke-ereveldwagters
Einde Julie het ’n span van 16 lede van die Agulhas-, Boland- en Wildernis-streeke kragte saamgesnoer om verdere herstelwerk te doen.
Altesaam 19 nuwe aanwysingsborde is vir die ompad van die Aalwynkop-roete gemaak en aangebring.
Die grawe van gate, plant van pale en aanbring van die borde het ’n span van vier ereveldwagters vir twee volle dae besig gehou. Plantegroei is ook teruggesny om die roetes oop te maak.

Bo is hoe dit gelyk het op die Alwynkop-staproete ná die oorstromings. Onder is Sanparke-ereveldwagters op die roete nadat hulle opruimingswerk gedoen het. Foto: Sanparke-ereveldwagters
Die houtdekke en vensters van die agt beskadigde chalets moes ook verder skoongemaak word. Die vloedmodder was steeds uiters klewerig en hardnekkig en het verskeie rondtes se skoonmaak met hoëdrukspuite, besems, dweile en borsels vereis.
Swaar masjinerie was nodig om groot boomstamme te verskuif en op te tel, maar masjinerie alleen was nie genoeg nie. Baie gewillige hande was nodig om te help. Lede het sommer met hul eie voertuie gehelp om die rommel weg te ry.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
