On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Einde van ’n era vir Gariep, Warmbad en ander oorde

───   14:15 Thu, 17 Sep 2026

Einde van ’n era vir Gariep, Warmbad en ander oorde | News Article
Die Gariep Forever Resort in die Vrystaat is een van die oorde wat nou onder nuwe eienaarskap staan. Foto: Gariep, A Forever Resort

Die eienaar van bekende vakansieoorde soos Gariep, Warmbad en Loskopdam het die begin van ’n nuwe hoofstuk aangekondig onder nuwe eienaarskap.

Benus Trade and Invest het Forever Resorts oorgeneem en neem ook besit van oorde by Plettenbergbaai en Phalaborwa, Blyderivier en Loskopdam.  Swadini, Tshipise en ‘n agstuks hotels en lodges is ook deel van die portefeulje.

Die groep sê onder die nuwe eienaars gaan die ikoniese handelsmerk en erfenis in stand gehou word, terwyl ook nuwe geleenthede in die mark ondersoek word. Forever Resorts beklemtoon bedrywighede gaan voort soos normaalweg vir toeriste en besoekers,.

 “Vir gaste, werknemers, sakevennote en belanghebbendes beteken dit ’n naatlose voortsetting van die Forever Resorts-handelsmerk, terwyl dit terselfdertyd opwindende moontlikhede vir die toekoms open,” het die groep gesê. 

Forever Resorts is bekend vir vakansiebestemmings van goeie gehalte. Foto: Gariep, A Forever Resort

Agt van die huidige Forever Resorts-oorde was vroeër deel van Aventura, ’n staatsonderneming wat in 2003 gelikwideer is. Die eiendomme is toe aan Forever Siyonwaba Resorts verkoop en later na Forever Resorts oorgedra, berig Business Tech.

Nou is Forever Resorts deur Benus Trade and Invest oorgeneem, ’n beleggingsmaatskappy wat deel vorm van Community Investment Holdings. 

Dié onderneming is 100% in swart besit en in 1995 gestig deur prof. Anna Mokgokong, sakevrou en tans kanselier van die Noordwes-Universiteit, en sakeman Joe Madungandaba. Dit het belange in gesondheid, tegnologie, telekommunikasie, energie, mynbou, logistiek en infrastruktuur. 

Prof. Anna Mokgokong is ook kanselier van die Noordwes-Universiteit. Foto: NWU

Volgens Community Investment Holdings is ’n kernaspek van die oorname die bewaring van die handelsmerk en bestemmings.

 “As nuwe bewaarder van Forever Resorts is ons verbind  daartoe om voort te bou op die trotse erfenis, tot die bewaring van hierdie kosbare bestemmings, en om te verseker dat dit toeganklik bly en deur Suid-Afrikaners vir geslagte geniet te kan word.” 

Die transaksie is einde Augustus aangekondig ná goedkeuring deur die Mededingingskommissie. Eugene van Jaarsveldt, besturende direkteur van Forever Resorts, sê die ooreenkoms verseker voortgesette strategiese groei en ontwikkeling.

Eugene van Jaarsveldt van Forever Resorts. Foto: Forever Resorts

Hy beklemtoon Forever Resorts is reeds vir dekades ’n ikoniese deel van die Suid-Afrikaanse gasvryheidslandskap. 

Die groep gaan steeds ’n diverse portefeulje van oorde, hotelle, lodges en selfsorgverblyf aanbied, saam met woonwa- en kampeerfasiliteite, konferensie- en trouvenues, en ’n verskeidenheid ontspanningsaktiwiteite. 

“Ons fokus was nog altyd op mense – ons gaste, ons span en die gemeenskappe wat ons die voorreg het om te bedien. Hulle bly die kern van alles wat ons doen,” sê Van Jaarsveldt, berig Engineering News.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.