On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Dringende oproep om inligting oor vermiste ma van Pretoria

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:53 Wed, 14 Oct 2026

Dringende oproep om inligting oor vermiste ma van Pretoria | News Article
Serah-Lee Venter. Foto verskaf

Enigiemand wat inligting het oor ’n Gautengse ma van twee wat reeds twee weke vermis word, word dringend versoek om na vore te kom, aangesien selfs die kleinste leidraad kan help om haar op te spoor.

Serah-Lee Venter (27) word sedert 29 September vermis nadat sy laas by haar huis in die Theresapark-gebied in Akasia, Pretoria-Noord, gesien is. Niemand het sedertdien van haar gehoor nie.

Sy is glo te voet by die huis weg en het ’n blou kortbroek en ’n blou moulose T-hemp aangehad.

Mike Bolhuis, spesialisondersoeker wat by die soektog betrokke is, vra die publiek om geen inligting terug te hou nie, selfs wanneer mense onseker is oor wat hulle weet of bang is vir moontlike intimidasie of enige vorm van beïnvloeding.


“Alle inligting sal vertroulik hanteer word en die identiteit van mense wat na vore kom, sal beskerm word.”

Hy verduidelik inligting hoef nie noodwendig uit bevestigde feite te bestaan om nuttig te wees nie. Dit kan ook vermoedens of inligting wees wat iemand by ’n ander persoon gehoor het. Die ondersoekspan kan dan bepaal of en hoe dit opgevolg moet word.

Bolhuis waarsku mense wat moontlike relevante inligting weerhou, kan die ondersoek belemmer en die kanse benadeel om die vermiste vrou op te spoor.

Serah-Lee Venter is 'n mamma van twee. Foto verskaf

Hy doen spesifiek ’n beroep op mense wat bang is om betrokke te raak of bekommerd is oor intimidasie om steeds na vore te kom.

“Die ondersoek is tans in ’n intensiewe en sensitiewe stadium. Die span ontvang talle oproepe, wenke en ander inligting en volg dit op. Riaan Cloete en Koos Gerber is deel van die projektaakspan vir vermiste persone.” Die span is deur Donnovan Kapp, Venter se vriend, aangestel.

“Ons ondersoekspan het reeds met betrokkenes gepraat. Verdere besonderhede oor die ondersoek en bevindings sal eers bekend gemaak word wanneer die saak afgehandel is. Geen verdere gevolgtrekkings oor wat met Venter gebeur het, kan egter op grond van hierdie inligting gemaak word nie.”


Venter het gekleurde blonde tot grys hare, groenblou oë en ’n gemiddelde liggaamsbou. Sy weeg ongeveer 64 kg en het ’n kenmerkende tatoeëermerk aan die regterkant van haar sleutelbeen.

OFM Nuus het ’n familielid van Venter genader, wat egter nie met die media praat nie en versoek mense moet eerder enige inligting by die polisie of Bolhuis se taakspan aanmeld en die familie se privaatheid respekteer.

Enigiemand met inligting wat met die saak verband hou, word versoek om die ondersoekbeampte, ao. Dries Momberg, by 083 419 9766 te bel. Vir enige ander inligting kan Bolhuis by 082 447 6116, Cloete by 076 758 9690 of Gerber by 082 952 6909 gekontak word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.