On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Janke-lee begin op stemme reageer ná selfdoodpoging

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:08 Thu, 15 Oct 2026

Janke-lee begin op stemme reageer ná selfdoodpoging | News Article
Janke-lee Engelbrecht. Foto verskaf

Die bekende stemme van geliefdes bring klein oomblikke van hoop vir ’n tienermeisie wat steeds in die hospitaal veg om herstel ná ’n selfdoodpoging.

Janke-lee Engelbrecht (13) is op 17 September in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg opgeneem nadat sy ’n groot hoeveelheid medikasie by hul huis op Brakpan ingeneem het. Hoewel sy nou heeltemal van sedasie af is, is sy steeds aan ’n ventilator gekoppel terwyl die medikasie se uitwerking op haar liggaam geleidelik afneem, sê Henricus, haar pa.

Hy vertel hy het met sy dogter gepraat en stemboodskappe van haar maats en familielede vir haar gespeel. Haar ouma en tannie het ook met haar oor die telefoon gepraat.

“Janke-lee is nog nie behoorlik wakker nie, maar begin beweeg wanneer sy bekende stemme hoor en probeer om haar ogies oop te maak. Ek dink ek het vir ’n oomblik ’n glimlag sien vorm. Ek hoop ek is reg,” sê hy.

’n Elektroënsefalogram (EEG)-toets is ook gedoen om haar breinaktiwiteit te ondersoek. Die uitslae sal na verwagting nog vandeesweek beskikbaar wees.

Henricus sê die familie wag steeds dat die oorblywende uitwerking van die sedasiemedikasie verdwyn sodat hulle ’n beter beeld van haar toestand kan kry.

Janke-lee se herstel volg ná ’n moeilike tyd vir die gesin. Henricus het vroeër aan OFM Nuus vertel van sy kommer oor die beweerde boeliegedrag wat sy dogter glo sedert vroeër vanjaar by die skool ervaar het.

Hy beklemtoon steeds hoe belangrik dit is dat ouers hul kinders se emosies en gedragsveranderinge ernstig opneem en seker maak dat hulle die nodige ondersteuning kry. “Luister na jou kind,” was sy boodskap aan ander ouers.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.