South Africa
Kinder-musiektydskrif kry lewe met QR-kodes─── SUSAN MARÉ 13:17 Mon, 09 Nov 2026
’n Nuwe musiektydskrif vir kinders met QR-klankkodes is ’n eerste in Suid-Afrika.
NoteBeat Magazine is spesiaal vir kinders van sewe tot 12 jaar oud en ses stigterskole in Noordwes is sedert September daarby betrokke. Dit het al meer as 2 500 kinders bereik.
Dit is die unieke skepping van Louise Joubert van Klerksdorp. Sy is al die afgelope 25 jaar ’n passievolle musiekonderwyseres en leef haar beroep kreatief uit.
Sy het begin dink hoe sy alles wat sy deur die jare geleer en ontwikkel en versamel het, bymekaar kan bring sodat meer kinders aan goeie musiek en opleiding blootgestel kan word. Musiekopleiding help die brein ontwikkel en om intelligensie te verhoog, terwyl motoriese vaardighede ook kan verbeter.

Louise Joubert van Klerksdorp. Foto verskaf
Die kinders is baie positief oor die tydskrif en ’n nuwe, derde gedrukte volume met ‘n Kerstema is binnekort beskikbaar. Die redaksie bestaan uit Louise, stigter-redakteur, Linda van Tonder, taalversorger, en Shana Mann, bemarkingsassistent. Dit verskyn tweemaandeliks.
Haar liefde vir musiek, kinders en stories is die groot inspirasie om NoteBeat te skep. Haar droom is om alle kinders te help om die wonder van musiek te ontdek deur avonture, legkaarte, aktiwiteite, luisteruitdagings en kreatiewe ervarings.
“Dit maak leer betekenisvol, onvergeetlik en lekker. Ek hoop elke uitgawe inspireer jong musikante om te ontdek, te skep en om op musiek verlief te raak. Dis geen geheim dat musiekaktiwiteite en -onderrig kinders ‘slimmer’ maak nie. Dit is al wetenskaplik bewys musiekopleiding help die brein ontwikkel, verhoog algemene intelligensie en verbeter motoriese vaardighede.”

Musiek help kinders se brein ontwikkel. Foto verskaf
NoteBeat se primêre teiken is nie skole nie, maar kinders kinders jonger as 12 jaar wat reeds selfstandig kan lees. Jonger kinders, selfs vanaf ongeveer vier jaar, kan dit saam met ’n volwassene geniet.
“Een voordeel is dat die kind nie die heeltyd ‘verslawend’ na ’n skerm hoef te staar nie. Die toestel (selfoon of tablet) word hoofsaaklik as ’n klankspeler ingespan. Die QR-kodes blaas lewe in die teks sodat kinders nie net lees van die musiek nie, maar dit dadelik kan hoor en ervaar.”
Die Laerskool Mooirivier in Potchefstroom, die Laerskool Saamtrek in La Hoff, Klerksdorp, Noordwes-Musikon op Klerksdorp, Curro Klerksdorp en Mountain Cambridge op Hartbeespoort is van die skole wat dit reeds gebruik.

Die tydskrif is kleurvol, propvol aktiwiteite en eiesoortig. Alles speel af in Beatville, ’n denkbeeldige musiekdorpie wat die leefwêreld is van Melodie en haar kat, Basjan. Albei se voorkoms en gene kan natuurlik na KI teruggevoer word.
Voor in die eerste uitgawe van 45 bladsye is ’n dorpuitleg van Beatville wat kinders help om hul weg te vind, terwyl ’n inhoudsopgawe aandui waar elke avontuur afspeel. Die liggings van die musiekskool, Eggo-grotte, konsertsaal, komponismuseum en die klankkamer kan op die kaart gevolg word.
Die Toonleerberge, Ritardandorivier, Djembebrug, Tempostrand, slingerende strate en musiekkasteel gee aan Beatville ’n besonderse karakter. Die wakker elke kind se verbeelding aan.

Aktiwiteite wat kinders lank gaan besig hou is woordraaisels, legkaarte en stories met musiek soos Antonio Vivaldi – Die rooi priester, Die muis in die kloktoring en Die konsertmeester se viool.
Hulle kry in die eerste tydskrif ook kans om wêreldberese te raak en saam met Swoosh na Venesië te reis. Daar leer hulle van Pisa se kloktoring en pizza. Antonio Vivaldi van Italië se beroemde komposisie Die vier seisoene word vier inkleurprente terwyl kinders na die oorspronklike musiek wat die vier seisoene uitbeeld, kan luister.
Die verhaal van die muis in die kloktoring is boeiend wanneer Basjan die kat tot die dorpie BeatVille se redding kom en die muis gaan vang. ’n Klein muisie op die verkeerde plek veroorsaak ’n stil klok en kry dit reg om die hele dorp tot stilstand te bring.

Nog ’n karakter is Marmite – die swart musiekkat. Sy kruip iewers tussen die 45 bladsye van die tydskrif weg en moet natuurlik gevind word. Dan is daar die reise om die wêreld, die ontdekking van musiekinstrumente, basiese musiekteorie soos die aanleer van ritmes en musieknotasie. Kinders kan lees, blaai, inkleur, skryf en speletjies voltooi.
“Ek wou die genot van ’n regte, gedrukte tydskrif behou. Die tydskrif is ook in Engels beskikbaar. Ek is baie opgewonde omdat NoteBeat so ontwerp is dat dit kinders se leesvaardighede, taalbegrip en kognitiewe ontwikkelling aanpak deur stories en aktiwiteite aan musikale konsepte en klank te koppel.”
Sandrie van Deventer, hoof van die Noordwes-Musikon in Klerksdorp, sê NoteBeat Magazine kan dalk net die vonkie wees wat ’n kind nodig het om ’n instrument op te tel en met sy of haar musiekreis te begin.
“Ons almal weet dat kinders tussen sewe en 12 jaar op ’n emosionele wipplank ry. Die een oomblik voel hulle oorweldig deur ’n moeilike wiskundesom, en die volgende oomblik is hulle koning of koningin van die speelterrein.
“Musiek gee hulle ’n plek waar hulle al hierdie groot gevoelens kan uitleef. Wetenskaplikes praat graag van ‘neuroplastisiteit’, maar eenvoudig gestel, musiek gee jou brein ’n behoorlike oefensessie.
“Wanneer ’n kind terselfdertyd note lees, sy vingers beweeg en die ritme volg, is daar soveel aktiwiteit in die brein dat dit amper soos ’n kleurvolle vuurwerkvertoning sou lyk. Dit bou fokus en geheue. Ons hier by die Noordwes-Musikon is baie opgewonde om te sien hoe hierdie inisiatief van Louise Joubert groei en ontwikkel, en dankbaar vir wat dit reeds vir kinders beteken.”
Die tydskrif is hier beskikbaar.
OFM Nuus/Susan Maré dg/cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
