On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Geen leë beloftes meer: Vroue eis daadwerklike beskerming

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:02 Fri, 27 Nov 2026

Geen leë beloftes meer: Vroue eis daadwerklike beskerming | News Article
Mara Glennie, stigter van die Tears-stigting. Foto: Facebook/Tears Foundation

"Die regering moet ophou om leë beloftes oor die beskerming van vroue en kinders te maak en eerder ’n volhoubare veiligheidsnet daarstel om slagoffers van geslagsgeweld te beskerm."

Die Tears-stigting maak saam met Suid-Afrika gereed vir die jaarlikse 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Die veldtog kan nie bloot nog ’n geleentheid vir toesprake en openbare verklarings wees terwyl vroue steeds teen ’n kommerwekkende tempo vermoor word nie, sê Mara Glennie, stigter van die stigting.

Volgens die organisasie is 569 vroue in net drie maande vanjaar vermoor. Die stigting, wat gratis en 24 uur-krisisingryping aan oorlewendes van geslagsgeweld bied, ontvang daagliks meer as 170 versoeke om hulp.

Glennie sê vroue het nie nóg regeringsbeloftes nodig nie, maar konkrete optrede wat hul veiligheid verseker. Sy meen daar is ernstige tekortkominge in die ondersteuningstelsel waarop slagoffers aangewese is. Dit sluit onvoldoende opgeleide polisielede, ’n gebrek aan beskikbare skuiling en onvoldoende finansiering vir organisasies in wat noodsaaklike hulp aan oorlewendes bied.

Foto: Facebook/Tears Foundation

Die stigting waarsku slagoffers word dikwels tussen verskillende staatsdepartemente en diensverskaffers rondgestuur sonder dat iemand verantwoordelikheid aanvaar om te verseker dat hulle die nodige beskerming en ondersteuning ontvang.

Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad is die koers van moorde op vroue deur intieme lewensmaats 5,5 per 100 000 vroue, teenoor die wêreldwye gemiddeld van 1,2 per 100 000.

Celeste Louw, hoofbestuurder van die Tears-stigting, wys ook op die groot verskil tussen die aantal seksuele misdrywe wat aangemeld word en sake wat deur die regstelsel afgehandel word. Tydens die 2024/25-boekjaar is 51 012 seksuele misdrywe by die polisiediens  aangemeld. Die NVG het in dieselfde tydperk 5 282 sake afgehandel en 3 723 skuldigbevindings verkry.

Celeste Louw, hoofbestuurder van die Tears-stigting. Foto: Facebook/Tears Foundation

Louw beklemtoon dié syfers verwys nie noodwendig na dieselfde sake nie, maar meen dit laat belangrike vrae ontstaan oor wat met sake gebeur nadat dit by die polisie aangemeld is.

Die organisasie se eie statistieke toon 57% van die oorlewendes wat dit oor die afgelope vyf jaar gekontak het, het nooit formele klagtes oor hul ervarings ingedien nie.

Louw sê sekondêre viktimisasie is een van die redes waarom slagoffers daarvan weerhou word om sake te open of voort te sit. Sommige word glo nie met die nodige deernis en professionaliteit by polisiekantore behandel nie, en word selfs geblameer of nie ernstig opgeneem nie.

NRO's onder druk weens onvoldoende fondse

“Suid-Afrika beskik reeds oor wette wat slagoffers moet beskerm, maar dié wetgewing beteken min indien dit nie behoorlik toegepas word nie.” Dit wys onder meer op die belangrikheid daarvan dat beskermingsbevele afgedwing, bedreigings behoorlik beoordeel en bewyse deeglik ingesamel word.

Die organisasie waarsku ook dat nie-regeringsorganisasies wat noodsaaklike dienste aan slagoffers lewer, onder toenemende druk verkeer weens onvoldoende en onbetroubare staatsbefondsing.

Wanneer skuilings en ander ondersteuningsdienste hul deure moet sluit, kan slagoffers sonder ’n veilige heenkome gelaat word en selfs gedwing word om na onveilige omstandighede terug te keer.

‘Beskerming die hele jaar, nie net vir 16 dae’

Die stigting vra die regering om ’n jaarlikse mandaat oor alle betrokke departemente in te stel om aanspreeklikheid en meetbare resultate in die stryd teen geslagsgeweld te verseker.

Die voorgestelde maatreëls sluit in volhoubare finansiering vir NRO's, behoorlik opgeleide polisielede, die konsekwente toepassing van bestaande wetgewing en aanspreeklikheid vir departemente en amptenare wat hul pligte versuim.

Die stigting vra ook dat ministers en departemente openbare verslae lewer oor die dienste wat gelewer is, waar tekortkominge bestaan en wanneer dit reggestel sal word.

Glennie sê die regering moet die 16 dae van aktivisme gebruik om konkrete resultate te toon en hom daartoe verbind om vroue en kinders die hele jaar te beskerm, nie net gedurende die bewusmakingsveldtog nie.

OFM Nuus cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.