Gemesmeraais deur 'n storie (met apologie aan Eugene Marais)
ELSABE PEPLER
20:58 Mon, 04 Feb 2013
Gemesmeraais deur 'n storie (met apologie aan Eugene Marais) | News Article
Storytelling is the most powerful way to put ideas into life today - Robert McKee.
Ta da da da da da dum, ta da da da da da dum, al op die kitaar se A A D E snare …

Ek het geswéér ek sal nie die soveelste een word wat iets daaroor te sê of te huil het of in swym te verval nie. Maar ek is ‘n sucker vir ‘n storie. (Veral as die waarheid vreemder as fiksie is.) En boonop is ek onder die invloed van die wonderlike C G Jung. Dié storie het altwee faktore in gemeen.

Gooi die volgende bymekaar: ‘n jong film-regisseur wat regoor die wêreld geswerf het om ‘n kopskud-storie te kry, dit in Kaapstad gevind het en daarna vir vier jaar sonder salaris by sy kombuistafel bly glo het daarin; ‘n goeie dosis speurvernuf en spannende soektog; die medium van film, die “silwerdoek”. En die belangrikste: een buitengewone, gewone individu en mens wat die essensie van die lewe definieer. Hoekom anders het die verhaal so ‘n effek op mense regoor die wêreld?

Ek weet dat duisende mense (soos ek) in teaters gesit en snik het. Ene Stephen van die Kaapse Applied Jungian Centre bely op die Internet: “I wept. It was one of the most poignant cinematic stories I have ever seen.” Ek dink mens sal verskillende antwoorde kry as jy vir diegene wat die meeste geaffekteer was, vra op watter oomblik die dam van die wal meegegee het.

Maar hoekom was die storie so groot; groter as talle ander groot stories?

Wat my geruk het, was daardie geboë, swartgeklede, alleen figuurtjie wat so gly-val deur die sneeu-wit en rokerige agterstrate van Detroit. Die alleen-mens agter die vuil glasvenster, en die vervalle omgewing waarin die huis staan waar hy glo reeds meer as veertig jaar woon. Die hele verhaal was een van mens-wees, amperse sukses, mislukking, regop-bly, broosheid, lotsbestemming, selfaanvaarding. En ‘n dosis Karma.

En deur dit alles, die kitaar wat tadadada da dum, tadadada da da dum.

Sixto Rodriquez, nou in sy sewentigs, het – na my mening – teen alle waarskynlikheid in daarin geslaag om die onsekerheid en ironie van menswees te omhels. Hy wou eintlik net sy eie verwagtings en hoop leef, nooit ander mense s’n nie. (Dis dalk hoekom hy met sy rug na gehore gesing het?) Hy het gedink hy het iets om te sê, en daarom ook filosofie laat in sy lewe studeer. Waarna hy steeds ‘n arbeider gebly het.

Die mensdom in Amerika was nie gereed vir sy filosofiese waarhede nie. Maar in Suid-Afrika het rebelse jongmense begin wonder, wonder oor wat vir ons vertel was en wat ons nie geweet het nie, ta da da da da da da dum ...

Rodriquez se gewildheid het in Apartheid Suid-Afrika, onder die agterdogtige en vingerswaaiende toesig van PW en Kie, soos ‘n veldbrand versprei. My geslag het inderdaad almal sy plaat gehad; die een met die omslag waarin hy in ‘n pers glitterball sit, omdat hulle so gesukkel het om hom gekiek te kry voor die dae van Photoshop.

Wat ironies is, is hoe relevant sy boodskap vandag nog vir die hele wêreld is, hier in dieselfde SA waar hy so populêr geword het sonder dat hy ‘n snars daarvan geweet het. Hy het nie ‘n sent gemaak nie, geen roem geniet nie, niks erkenning gekry nie, geen konserte gelewer nie. Niemand om hom het geweet van sy geniale talent en insig nie; sy liefdevolle dogters wis van sy profetiese loopbaan en lewe niks.

The mayor hides the crime rate
council woman hesitates
Public gets irate but forget the vote date
(of stem net weer vir dieselfde voos party)
Weatherman complaining, predicted sun, it's raining
Everyone's protesting,
boyfriend keeps suggesting you're not like all of the rest
Garbage ain't collected, women ain't protected
Politicians using people, they've been abusing
...

Gun sales are soaring, housewives find life boring
Divorce the only answer smoking causes cancer
This system's gonna fall soon, to an angry young tune
And that's a concrete cold fact.
The pope digs population, freedom from taxation
Teeny Bops are up tight, drinking at a stop light
(This is not a song it’s an outburst)

Hoe onnosel was ons Suid-Afrikaners, en veral ons Afrikaanses, in die donkerte van apartheid. Ek was geskok en kwaad dat daar waaragtig ‘n Argief vir Gesensureerde Materiaal in Johannesburg bestaan. Een waarin Cold Fact netjies gebêre was met die fatale krapmerke oor die titelsnit. I Wonder. Dis die een ding wat ons nie in die vloed van propaganda durf doen het nie: om te wonder. Veral nie oor hoeveel keer ons seks gehad het of nog gaan hê nie. Ek het opnuut besef hoe uitdagend dit was, veral vir ons wit Afrikaanse vroue – maar alle vroue in Suid-Afrika – om aan groot loopbane en roepings te dink. Ons was half gedoem tot wonder oor seks in die lewe onder die bloudruk van Calvinisme.

Ek onthou dit soos gister, my lighoofdige studente-partytjies, waar die swottende manne om die braaivleisvuur aan mekaar gestamp het wanneer ons die plaat gespeel het. En heimlik vermoed het dat Rodriquez ‘n dagga-benewelde Amerikaner was wat net dink oor seks. Hoewel ons ook gewonder het.

In ‘n wonderlike nuwe boek op my bedkassie lees ek hoe ons breine letterlik bedraad is om die lewe deur stories te verstaan (Wired for Story, Lisa Cron 2012) en ek begryp weer hoe en waarom ons so wanhopig op soek na rolmodelle is.
Hulle stories kan ons inspireer en leer en lei. En ek dink Rodriquez het waaragtig iets belangriks om vir ons te sê. Nog steeds, en opnuut. (Dit laat my so bietjie dink aan ‘n kruisingingsverhaal.)

Maar ek glo nie dat Rodriquez en Sugarman se boodskap een is dat jou en elkeen van ons se dag van geregtigheid uiteindelik sal kom en dat ons bo obskuriteit uitgelig gaan word nie. Dat jy beroemd, erken, baie ryk en celebrity-like sal wees nie. Die verontwaardiging en pyn van die meeste fliekgangers handel immers meestal daaroor dat Rodriquez uit sy geld verneuk is. Uit roem, uit weelde, roeping, rykdom. Sovele betoog nou dat hy uiteindelik sy geld moet kry. Hy gaan ‘n nuwe album maak, en uiteindelik ryk word. Dis wat ons hoor en lees en oor juig.

Ek twyfel sterk of dit is wat Rodriquez wil hê en wou bereik.

Carl Gustav Jung het individuasie gedefinieer as “die proses waardeur ‘n mens ‘n in-dividu word, ‘n onafhanklike, aparte ondeelbare eenheid of geheel in sy omgewing”. Een mens, waar die ego en persona, die self en die onbewuste nie aparte rolle speel en verskillende verdeelde “mense” is nie.

Die proses van individuasie is die houer “waarin alle ander dinge styg en val, eb en vloed – insluitende ons drome en fantasieë, ons aspirasies en sin vir geroepenheid, ons ondernemings en verkeerde besluite. Die proses van individuasie is die argetipiese sop waarin ons almal swem” (Jungian Analytic Practice). Om heel te wees, nie verdeeld in jouself te wees in die gesig van mislukking en ‘n ongewenste boodskap en verwerping nie, is iets heel anders as om beroemd en ryk en magtig te wees en aanbid te word, sonder ‘n danige boodskap. (Dink hier aan jonge Justin Bieber.)

Rodriquez kon uitstyg bo sy mislukking in die oë van ander, deur die pyn van iets wat hy gehad het om te sê, wat baie mense nie wou hoor nie.

Hy vertel iets van alleen-wees en weet dat sy menswees voldoende en volledig was sonder roem, en sonder dat dit hom ooit geaffekteer het. Hy spreek hom radikaal uit teen pretensies, skyn, skynheiligheid.

Nou hoor ons beter die boodskap oor menswees – en dis meer relevant as ooit.

Ek hoop dis die boodskap van Rodriquez wat afvryf op al sy nuwe volgelinge en aanbidders. Dat geluk en vrede en sukses intern is, en nie ekstern nie. Dat hy net so gelukkig was sonder geld en roem en sukses. Dat hy geweet het presies wie en wat hy is, sonder enige materiële bevestiging en aanvaarding.

Soon you know I’ll leave you And I’ll never look behind ‘Cos I was born for the purpose That crucifies your mind.

Vir my vertel Rodriquez ‘n storie van hergeboorte; hoe om finaal te stop om die verwagtings van ander te leef, en ons eie calling sonder illusies en wroeging te lewe. Sy storie oor tevredenheid en nederigheid; dít inspireer my meer as enige iets anders. Ta da da da da da dum.

Related Articles:

Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more