Arts
Nuwe toneelstuk verken liefde se kompleksiteite─── REFILWE BEKANE 10:00 Fri, 18 Jul 2025

’n Diepsinnige nuwe verhoogproduksie, ‘Kruispad of Die legende van die goue vis’, wat die grense van liefde, verraad en geweld ondersoek, betower die gehoor sedert sy première op die Vrystaat Kunstefees.
Die stuk, gebaseer op ’n magiese sprokie van die Estlandse skrywer Jaan Tätte, beloof om gehore ook verder te fassineer met sy unieke vertelwyse en komplekse karakters.
Dit handel oor ’n jong paartjie wat op pad na ’n partytjie langs ’n hoofpad gestrand raak. Ná ure in die ysige weer besluit hulle om skuiling te soek in ’n afgeleë hut in die bosse. Hier ontmoet hulle Oswald, ’n eensame man wat die meisie skuiling vir die nag aanbied en vas glo sy is vir hom bestem. Dit lei tot ’n intense stryd tussen die twee mans, wat die kern van die drama vorm.
‘Komedie met lieflike diepgang’
Marthinus Basson, die regisseur, het sy jare lange fassinasie met Tätte se werk gedeel. Hy het reeds in 2003, terwyl hy nog aan die Universiteit Stellenbosch doseer het, dele van die teks ontdek. “Dit is ’n komedie, maar dit is ’n komedie met lieflike diepgang,” sê Basson.
Die karakter Oswald se obsessie met iemand se foto maak van hom ’n besonder ingewikkelde figuur, sê die regisseur. Basson glo een van die grootste probleme in liefdesverhoudings is dat mense hul verwagtinge op ander projekteer. Die liefde moet wederkerig wees om te gedy.
Carla Smith, een van die spelers, loof Basson vir sy bydrae tot die opvoering. Sy sê sy werkwyse maak die proses interessant en aangenaam, aangesien hy deurentyd vernuwing vind in dinge wat reeds geoefen en herhaal is, om sodoende die hoogste gehalte in die toneelstuk te verseker.
“Die lewe is vreemd en die mens is ’n dwaas,” sê Smith. Die liefde is nie altyd seker nie, want al dink jy jy ken iemand, kan dinge verander.
Die produksiespan van Kruispad of Die legende van die goue vis is vol ambisie en het reeds verdere planne. Hulle hoop om nog geleenthede vir die stuk te skep en beplan om uiteindelik ook in Kaapstad op te tree en so ’n groter gehoor te bereik met dié prikkelende verhaal.