The Good Morning Breakfast
Nul is nie niks nie-film opsoek na kinderakteurs.─── 12:32 Thu, 07 Apr 2016


Nul is nie niks nie, geïnspireer deur Jaco Jacobs se topverkoper jeugboek “Oor ‘n Motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word” [LAPA Uitgewers], gaan eersdaags in ‘n vollengte film omskep word. Die boek was een van drie finaliste in die filmkategorie van die kykNET/Rapport-boekprys en die vervaardigers het ‘n landswye oudisie soektog van stapel gestuur op soek na die kinderakteurs om die hoofkarakters in die storie te vertolk.
Nul is nie niks nie is ‘n hartsverhaal oor die lewe, die dood, familie, vriende, liefde en hoop (en ‘n paar hoenders). Hierdie film vertel die storie van drie vriende (Hoender, Drikus en Chris) wat saam staan om Drikus se laaste droom te bewaarheid – om ‘n zombiefilm te maak. Tydens hierdie proses begin Hoender sy pa se dood verwerk, hy maak nuwe vriende, kry selfvertroue en leer dat sy eie talente ook waardevol is. Drikus se lus vir die lewe, uithouvermoë en determinasie bring die half-dood gemeenskap bymekaar en blaas nuwe lewe en hoop in die dorp in.
Die filmspan, met Stefan Enslin (Strikdas & Verskietende Ster) & Lizé Vosloo (Dominee-Truuks) as vervaardigers en Morné du Toit (Hoofmeisie) as regisseur, nooi alle dogters tussen die ouderdomme van 11-13 jaar, asook seuns tussen die ouderdomme van 11-13 jaar om die oudisies as volg by te woon:
Johannesburg: 9 & 10 April 2016
Plek: Ballywoods Office Park, Bryanston.
Kaapstad: 16 & 17 April 2016
Plek: Sal bevestig word
Karakters:
Hoender (Eenkant kind. Hoender boer : Seun)
Drikus ( Niks-bang aspirant filmmaker. Lei aan Hodgkins se siekte: Seun)
Chris (Flambojante rissiepit : Dogter)
Safraas (Groot prater en te groot vir sy skoene: Seun)
Waylon (Oorgewig. Safraas se pêl. Skool se stut: Seun)
Jolandi en Mandi ( opsoek na Tweeling dogters. )
Dis egter belangrik dat die kinders wel vlot Afrikaans kan praat. Vir meer inligting in verband met die oudisies, kontak ons asb by nulfliek@gmail.com
Source: http://www.bloemfonteincourant.co.za/nul-is-nie-niks-nie-film-opsoek-na-kinderakteurs/