Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:23 Thu, 03 Oct 2019
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher.
Hy praat oor die ekonomie van die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi wat tans in Japan plaasvind. Die ekonomie se wiele draai met rugby wat goed in Japan ondersteun word. Dit wissel van die verkoop van aandenkings, biltong vir die wedstryde en iets te drinke, tot die enorme monetêre waarde van uitsaairegte, advertensies en natuurlik die borgskappe. Hy sê kos wat verbruik word in dié land word deur boere verskaf.
Dit is die eerste sodanige kampioenskap wat sedert die aanvang van die wêreldbeker in 1987 in Asië aangebied word en na wat berig word, is die verloop van die toernooi in tipiese Japanse styl van uitstekende organisasie. Daar is wel kommer oor die moontlikheid van natuurrampe soos orkane, en hoewel dit sekere voornemende besoekers kon afskrik, is alle aanduidings dat die verwagte toevloei van tot 400 000 buitelandse besoekers bereik kan word. Dié skouspel sal deur nagenoeg 1,8 miljoen rugbyondersteuners gesien word. Die jongste wedstryd het ‘n verrassing opgelewer en dit is veral Japan se oorwinning oor die Iere wat die toernooi ‘n nuwe impetus gegee het.
Volgens die koerant, Japan Time, sal die Wêreldbeker-rugbytoernooi die Japanse ekonomie ‘n hupstoot van sowat 217 miljard Yen gee. Die totale addisionele invloei van geld in dié land gaan na raming meer as 437 miljard Yen wees. Hy sê daar sal na verwagting tot 25 000 werkgeleenthede geskep word met die aanbied van dié toernooi in die 12 stede waar die wedstryde plaasvind.
OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Laubscher gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, op OFM.
Luister weeksdae van 05:00 tot 06:00 na Gerben van Niekerk op Before Dawn. Skakel weeksdae om 11:00 en 13:30 in op OFM vir jou landbounuusbulletins. Om na insetsels te luister gaan na www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en Before Dawn. Bel vir Christal-Lize Muller met jou landbounuus by (051) 5050-953 of stuur vir haar ‘n e-pos na cmuller@centralmediagroup.co.za.
OFM-nuus
