Agri Hour
Varkpes-uitbreking in Noord-Kaap streng gemonitor─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:07 Mon, 07 Oct 2019
Die Departement van Landbou in die Noord-Kaap in samewerking met Savpo, monitor die uitbreking van die staatsbeheerde siekte, Afrika-varkpes (AVP), nadat talle varke op ‘n plaas by Campbell, naby Griekwastad, gevrek het.
Johann Kotzé, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo), sê dié plaas, wat nie ‘n kommersiële of ‘n kleinboerdery is nie, is onder kwarantyn geplaas. Dit kom nadat 57 vrylopende varke reeds gevrek het. Daar loop ook wild in dieselfde kampe. Hy sê al is die blootstelling met betrekking tot aansteeklike siektes soos AVP enorm, veral in die geval van vrylopende varke, word goeie bewegingsbeheer op dié plaas toegepas.
Kotzé sê die eienaar van die plaas het ook besluit om nie van sy oorblywende kudde te slag nie, omdat hulle in verskillende kampe aangehou word. Hy meen egter as die siek varke met die varke in ander kampe in kontak was, is dit hoogs waarskynlik dat dié virus versprei het. Dit kan daartoe lei dat meer varke gaan vrek, maar in die stadium is die belangrikste aspek egter dat dié varke op die plaas nie verskuif word nie. Enige beweging van die oorblywende varke word nie toegelaat nie, sê Kotzé.
OFM-nuus
