Agri Hour
UV is aan boord om water in Noord-Kaap te bespaar─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:12 Mon, 07 Oct 2019
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Agri Noord-Kaap spits hulle nou toe op die bewaring van water in dié droogtegeteisterde provinsie.
Dr. Antonie Geyer, direkteur van landbou-ontwikkeling by UV, sê dié tersiêre instelling se Instituut vir Grond en Waterstudies en georganiseerde landbou in die Noord-Kaap werk nou saam om die volhoubaarheid van die beskikbaarheid van water te ondersoek. Hy sê talle waterbronne in dié provinsie is uitgeput en daarom is dit nodig om spesifiek die beskikbaarheid van ondergrondse water en boorgate in terme van die hoeveelheid water wat daar is, en die gehalte daarvan, te ondersoek.
Dié bronne moet aangevul word tot ‘n mate wat volhoubaar vir die toekoms is. Volgens Geyer is daar boorgate in die Noord-Kaap wat opgedroog het en dit kom daarop neer dat die formasie in ‘n boorgat moontlik nie weer herstel nie. Daarmee saam is daar bestaande boorgate met water, maar die watertafel het gedaal, en die gehalte van die water is van só aard dat dit nie bruikbaar is nie. Hy sê daarom is die bestaande Kalahari-pyplyn, wat drinkwater aan diere op plase in dié gebied verskaf, ‘n moontlike opsie vir die Noord-Kaap, wat juis nie oor genoeg drinkwater vir vee beskik nie.
OFM-nuus
