Agri Hour
DA volhou druk oor probleme op munisipale meentgronde─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:57 Tue, 22 Oct 2019
Die DA in die Vrystaat gaan volgehoue druk op betrokke regeringsdepartemente toepas en sy rol as opposisieparty vervul in belang van bestaansboere, wat ‘n opdraande stryd voer op munisipale meentgronde by dorpe in landelike gebiede.
Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse Wetgewer, sê dié boere kry nie die nodige ondersteuning van die departemente van samewerkende regering, landbou en die polisie nie.
Hy sê oorbewyding deur kuddes, hoofsaaklik beeste, vind plaas. Waterbeskikbaarheid en geen heinings op dié meentgronde, veral langs die Lesotho-grens, is van die probleme waaroor dié boere ontevrede is. Dieregesondheid is ook ‘n probleem en geen hulp word van die landboudepartement ontvang nie.
Daarmee saam word kommersiële boere ook geraak, omdat van die beeste wat aan dié boere behoort op kommersiële plase wei sonder die nodige toestemming. Jankielsohn sê sodra kommersiële boere die kwessie aanspreek, ontvang hulle dreigemente en hul veiligheid op plase is in die gedrang. Die DA in die Vrystaat het talle vrae aan die nodige provinsiale regeringsdepartemente gerig. Die departement van samewerkende regering moet toesien dat dié munisipale meentgronde beter bestuur word, terwyl die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat ‘n beter diens ten opsigte van veeartsenykunde lewer. Die polisie moet toesien dat veral langs die Lesotho-grens diere nie onwettig op plase wei nie en boere se veiligheid moet ook verseker word.
OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Jankielsohn gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Luister weeksdae van 05:00 tot 06:00 na Gerben van Niekerk op Before Dawn. Skakel weeksdae om 11:00 en 13:30 in op OFM vir jou landbounuusbulletins. Om na insetsels te luister gaan na www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en Before Dawn. Bel vir Christal-Lize Muller met jou landbounuus by (051) 5050-953 of stuur vir haar ‘n e-pos na cmuller@centralmediagroup.co.za.
OFM News
