Agri Hour
#OFMFarmerDay: Jong bekroonde-Kovsiestudent glo SA se boere is tops─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:01 Tue, 26 Nov 2019
‘n Jong BSc-Agric finalejaar-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), met agronomie (gewasproduksie) as sy hoofvak, is positief oor die landboubedryf in Suid-Afrika, omdat plaaslike boere die wilskrag het om uitdagings te oorkom.
Wian Visser was onder die Old Mutual Landboustudent van die Jaar-kompetisie se nasionale wenners wat op Alfa 2019 aangewys is. Visser en Michelle Marais, ‘n honneurstudent in landbou-ekonomie ook aan die UV, het onderskeidelik in die gewasbou- en landbou-ekonomie-afdelings koning gekraai. Dié kompetisie is deur plaasmedia aangebied. Visser sê Suid-Afrikaanse boere kon nog altyd oplossings vir probleme vind en saamstaan in moeilike omstandighede. Hy het met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat en het as jong voornemende leier in die landboubedryf hulde gebring aan Suid-Afrikaanse boere vir die rol wat hulle speel as die beste produsente in die wêreld. Dit het deel gevorm van OFM se Dankie Dag vir Boere wat gister plaasgevind het.
Sien onderstaande PODCAST
OFM ondersteun boere wat kos vir mense wêreldwyd produseer en het gister dié dag gevier deur luisteraars aan te moedig om met 'n boer blad te skud en hulle te bedank vir die bydrae wat hulle in Suid-Afrika lewer, veral ten opsigte van kosproduksie. Dit is nog nie té laat om dié ervaring op sosiale media met #OFMFarmerDay te deel nie. Besoek ook OFM se Facebookblad om foto’s of video’s te deel.
OFM-nuus
