On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agri Hour

Boere Droogtehulp SA maak staat op gemeenskap se ondersteuning

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:03 Wed, 11 Mar 2020

Boere Droogtehulp SA maak staat op gemeenskap se ondersteuning | News Article

Die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, stoom voort om geld in te samel vir droogtehulpprojekte in gebiede waar die droogte produsente steeds in 'n knyptang het.


Die stigter Chris van Beljon sê dié maatskappy werp alles in die stryd om geld in te samel om onder meer veevoer, kos en water aan te koop en aan boere uit te deel in gebiede in onder meer die Noord-Kaap. Boere strek steeds swaar weens die droogte. Van Beljon moedig mense aan om dié maatskappy te ondersteun en onder meer eerskomende Saterdag die Sannies Boeredroogtehulp Musiekfees in Bloemfontein by te woon.

OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Verskeie kunstenaars soos Zak Steyn, Jakkie Louw, Daniel Wesley, Neil Somers, Pieter Naude, en Karlien Hussselman tree Saterdag by die Laerskool Sand du Plessis se rugbyveld op. Dit begin om 10:00. Toegang vir dié buiteligvertoning is R100 vir volwassenes en R50 vir kinders bo die ouderdom van 14.  Daar is verskeie stalletjies en mense kan hul kampstoele en koelerbokse saambring. Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om onder meer veevoer en ander noodsaaklike produkte soos kos en water aan landbougemeenskappe te verskaf, sê Van Beljon.

Ander geldinsamelingsprojekte waarby Boere Droogtehulp betrokke was, is 'n potjiekoskompetisie by Richardsbaai. Van Beljon sê 'n video-opname word ook gemaak in Kenhard in samewerking met Juan Boucher, 'n Suid-Afrikaanse kunstenaar, om bewustheid te kweek oor die voortslepende droogte in die Noord-Kaap.

Van Beljon sê dié maatskappy beplan 'n groot aksie op 27 Maart waar  60 "interlink"-vragmotors en 25 bakkies met sleepwaens, veevoer aan boere in die Kenhardt distrik wil aflewer.

'n Monument wat in die dorp opgerig is, gaan dan ingehuldig word. Dié monument is opgerig om hulde te bring aan boere wat swaartrek en selfs hul eie lewens geneem het weens die droogte.

Besoek Boere Droogtehulp SA se Facebookblad vir meer inligting. Kaartjies vir die Sannies Boeredroogtehulp Musiekfees is by Computicket beskikbaar.

Dit was Chris van Beljon van Boere Droogtehulp SA slegs op Before Dawn. Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbou-gemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogte-situasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus, volg die hutsmerk #LandbouHoop.


OFM-nuus



Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.