Agri Hour
SA se verwagte mielies lyk belowend, maar daar is nog risiko's─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:08 Wed, 11 Mar 2020
Suid-Afrika se verwagte kommersiële mielieoes is belowend, maar daar is nog sekere uitdagings vir produsente wat hul aangeplante gewasse moet lewer.
Dr. Dirk Strydom, 'n senior landbou-ekonoom en bestuurder van ekonomie en bemarking by Graan SA (GSA), het op dié organisasie se jaarkongres op Nampopark naby Bothaville in die Vrystaat beklemtoon dat die seisoen tot nou goed verloop het, maar die mielieoes is nog nie in die silo's nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Strydom sê daar is veral kommer oor toestande in die oostelike produksiegebiede, waar daar laat aanplantings was weens laat reën. Dit vergroot produsente se risiko ten opsigte van ryp wat vroeg kan voorkom en opvolgreën is ook noodsaaklik vir mielieplante se groeistadiums.
In terme van probleme met die graad van mielies word ook nie uitgesluit nie. Nat toestande word altyd verwelkom deur produsente, maar dit vergroot die risko vir plantsiektes, peste en plae. Dit kan egter beheer word, maar ryp en die gradering van gewasse is buite produsente se beheer.
Hy sê met belowende vooruitsigte op 'n goeie mielieoes is bemarking veral van groot belang. In 'n surplusjaar word druk outomaties op die prys van mielies geplaas, en daarom moet bemarking doeltreffend wees om 'n goeie prys te verseker. Daar is sprake van die uitvoer van voorraad, maar dit moet gefasiliteer word deur 'n prys.
Strydom meen in geheel het produsente 'n goeie produksiejaar nodig om weer op die been te kom nadat droogtetoestande in talle gebiede 'n invloed gehad het op produksie. Hulle het kontantvloei nodig, maar dit gaan langer neem as 'n jaar vir produsente om weer goed op dreef te kom. Hopelik gaan dié seisoen die begin wees van die drie jaar wat benodig word om 'n omkeer te bewerkstellig, sê hy.
Dit was dr. Dirk Strydom, 'n senior landbou-ekonoom en bestuurder van ekonomie en bemarking by Graan SA (GSA), slegs op Before Dawn.
OFM-nuus
