Agri Hour
Kommer oor ontwikkelingslandbou wat nie ekonomies groei─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:27 Mon, 16 Mar 2020
Die uitvoerkomponent en landbouverwerkingskettings, wat twee van die kategorieë in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is, het die afgelope ses tot sewe jaar goeie ekonomiese groei getoon.
In terme van die uitvoerkomponent het vrugte vinnig uitgebrei. Grane en lewende hawe het ook goed gevaar onder omstandighede waar die droogte en dieresiektes, soos bek-en-klouseer, ‘n groot rol gespeel het. Dit is volgens dr. Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, BFAP, wat op Graan SA se jaarkongres gepraat het oor ‘n nuwe benadering in graanekonomie. Volgens Meyer speel graan en oliesade ‘n belangrike rol in landbouverwerkingskettings, wat ook groei getoon het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê ontwikkelingslandbou is ook ‘n kategorie in die NOP wat van belang is en dít is die enigste kategorie, naas die uitvoerkomponent en landbouverwerkingskettings, wat nie groei getoon het nie. Hy sê daar is groot kommer oor ontwikkelingslandbou, met baie grond wat steeds onderbenut is. Hy skryf dit toe aan onder meer droogtetoestande waarin boere noodgedwonge tou moes opgooi, omdat hulle nie kollateraal vir grond het nie. Daar is geen veiligheidsnet wat beskikbaar is vir dié boere om in produksie te bly nie.
Hy sê daar is talle geleenthede beskikbaar om kos meer doeltreffend te produseer. Suid-Afrika beskik oor ‘n toenemende binnelandse bevolking, en daar is ekonomiese groei, hoewel dit stadig is. Invoervervanging moet geskied, soos onder meer in die hoendervleisbedryf, want daar is geelmielie- en soja-verbruik in dié bedryf. Daar moet in die lewendehawebedryf op die uitvoermark ook gefokus word.
Hy sê ingryping is egter nodig, wat onder meer insluit spesifieke beleidstellings, beleggings wat gedoen moet word en ten opsigte van die graanbedryf moet markte geskep word, die graderingstelsel, navorsing opbrengste op saadtegnologie is kritiese elemente wat geld kos, maar dit moet fyn gemeet word om vas te stel wat die koste asook die voordele daarvan is. Alle betrokkenes, insluitend die regering, moet in dié verband hande vat.
Volgens Meyer, wat betref die Bruto Binnelandse Produk (BBP), is daar groot hoop vir vanjaar en volgende jaar met positiewe syfers wat geprojekteer word, sodat die bedryf uit ‘n negatiewe tendens kan kom. Daarmee saam meen hy die rigting waarin die coronavirus beweeg, het ook ‘n bepalende rol, want dit plaas druk op wêreldgroei. Hy sê dit is nodig om realisties en eerlik te wees, want wêreldgroei is in die stadium “plat” en juis daarom sal Suid-Afrika sy opsies goed moet oorweeg en op die kleiner moontlikhede fokus.
Dit was dr. Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid, oftewel BFAP. BFAP slegs op Before Dawn. Intussen is hoër nuwe tariewe vir hoenderinvoer Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer, David Masondo, adjunkminister van finansies, het die verhogings goedgekeur. Dit sluit in ‘n 62% verhoging op hoenderporsies en 42% op ontbeende stukke.
OFM-nuus
